Bible Society of South Africa

Saaiwerk

Koring is in die weke voor die eerste herfreëns in Oktober gesaai. Die boer het al langs die varsgeploegde landery geloop en die sade so eweredig moontlik versprei deur gebruik te maak van ʼn swaai-aksie. Hy het die saad in ʼn sak of in die voue van sy klere gedra.

Saaiwerk in rye

Wanneer verskeie mense saamgewerk het, kon iemand agter die ploeg loop om die saad in die varsgeploegde voor te gooi. Daar is ʼn verwysing hierna in Jesaja 28:25: “en saai koring in rye en gars in vakke” (1933/1953-vertaling).

Saaiwerk met ʼn tregter

ʼn Soort tregter kon ook aan die ploeg vasgemaak word, wat die saad deur die tregter laat afgly het, netjies in rye in die varsgeploegde grond.


Hierdie metode was al in die tweede millennium v.C. in gebruik in Mesopotamië. Volgens die apokriewe boek Jubileë uit die tweede eeu v.C. het Abraham hierdie saaimetode in Kanaän bekend gestel.

Gelykenis van die saaier

Dit was steeds moontlik dat ʼn deel van die saad nie in die landery geval het nie, maar tussen die onkruid of op die klippe. Dit word pragtig geïllustreer deur die gelykenis van die saaier in Matteus 13:3-8, Markus 4:2-8 en Lukas 8:4-8.

Voorskrifte vir saaiwerk

In die Joodse wet is daar ʼn aantal voorskrifte vir saaiwerk. In Levitikus 25 staan daar byvoorbeeld dat ʼn boer vir ses opeenvolgende jare mag saai, maar nie in die sewende jaar nie. In daardie jaar, die sewende jaar, moet hy die grond braak laat lê. Volgens Levitikus 19:19 mag ʼn boer nie verskillende gewasse in dieselfde landery plant nie.

Saaiwerk as ʼn metafoor

In die Bybel word die terme “saai” en “oes” dikwels gebruik as ʼn metafoor vir oorsaak en gevolg. ʼn baie bekende vers uit Hosea 8:7 sê: “As mense wind saai, sal hulle ʼn storm oes.” In die gelykenis van die saaier in die Evangelies volgens Matteus, Markus en Lukas, is die saad ʼn metafoor vir die Woord van God.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS