Bible Society of South Africa

Ploeg

Voordat ʼn boer kon saai, moes die grond geploeg word. Deur te ploeg word die grond losgemaak sodat die saad dieper in die grond kan wegsak.

Ploeg om te saai

Die boer het eers enige groot klippe uit die land verwyder. Die klippe wat verwyder is, is dikwels gebruik om ʼn lae muur rondom die land te bou. Wanneer daar geploeg is, het die ploeg ʼn voor van net minder as 0,3 meter diep in die aarde gemaak. Die sade is in die vore gestrooi.

Ploegskaar

Die ploeg het bestaan uit ʼn metaalploegskaar wat aan een of twee houthandvatsels vasgemaak is. Die boer kon die ploeg met die handvatsels stuur. Die ploegskaar was ʼn plat, reghoekige lem wat met die punt na onder deur die grond getrek is. Ten einde deur die harde, klipperige grond te sny, is die ploegskaar uit metaal gemaak. In antieke tye was dit brons; sedert 1200 v.C. is yster gebruik.

Soms het die boer die ploeg self gestoot of getrek. Maar meestal sou een of twee osse of donkies die ploeg trek, wat dit deur die grond laat beweeg het.

Ploegskaar as ʼn metafoor

Die ploegskaar of die ploeglem word in die Bybel as ʼn simbool van vredestyd gebruik. Die teenoorgestelde beeld is die swaard as simbool van oorlog.

In Jesaja 2:4 en Miga 4:3 word aangekondig dat van swaarde ploegskare gesmee sal word, en van spiese snoeiskêre. Dit dui daarop dat daar ʼn tyd van vrede en geregtigheid sal wees. Aan die ander kant is Joël 3:10 ʼn oproep tot oorlog: “Maak swaarde van julle ploegskare, en spiese van julle snoeiskêre”.

Om te ploeg nadat gesaai is

Soms is die land weer geploeg nadat gesaai is. Dit is gedoen om seker te maak dat die saad wel in die grond ingewerk is. Saad wat op die oppervlak bly lê het, kon deur voëls en ander diere geëet word, of dit kon in die helder son uitdroog.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS