Bible Society of South Africa

Fees van die weke

Die fees van die weke (fees van die oes), ook bekend as

Sjavuot

, is een van die drie groot Joodse feeste naas die paasfees en die huttefees. Vir Jode was dit die afsluiting van die paasfees: die uittog uit slawerny in Egipte is verseël met die ontvangs van die Tora op Sinaiberg. Die Christendom het aan die fees van die weke ʼn ander interpretasie gegee deur dit met pinkster te vervang.

Siwan

Die fees is gevier op die sesde dag van die maand

Siwan

(Mei/Junie). In die Bybel is daar reëls wat bepaal dat niemand op daardie dag mag werk nie en dat die Israeliete na die tempel toe moet gaan om voor God te verskyn (Deuteronomium 16:9-12).

Die naam “fees van die weke”

Oorspronklik was die fees van die weke ʼn oesfees. Die fees is vernoem na die Joodse gebruik om sewe weke vanaf die paasfees tot by die fees van die weke (fees van die oes) te tel. Tydens die fees van die weke het die Israeliete graanoffers uit die nuwe graanoes gebring (Levitikus 23:16-17). Omdat die Hebreeuse woord vir gerf

omer

is, het die tyd tussen die paasfees en die fees van die weke ook bekend gestaan as “

omer

-tyd”.

Ontvangs van die Tora

In die Joodse tradisie het die fees van die weke (fees van die oes) vanaf die tweede eeu v.C. ʼn merkwaardige verandering ondergaan. Die oesfees-aspek het op die agtergrond vervaag en in die plek daarvan is die fees van die weke verbind aan die herinnering aan die ontvangs van die Tora op Sinaiberg. Hierdie oomblik was die afsluiting van die bevryding wat in Egipte begin het.



Hierdie verandering sluit aan by ʼn meer algemene tendens in die Bybel om die oorspronklike landboufeeste aan belangrike gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel te verbind. 

Tradisies

By die fees van die weke (fees van die oes) is die boek Rut in die sinagoge gelees, waarskynlik omdat die verhaal van Rut teen die agtergrond van die oes afspeel. Daarbenewens word die verhaal van Rut, wat handel oor die versorging van vreemdelinge en diegene wat verdruk word, verbind aan die gebod in Levitikus 23:22: “Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge.” Hierdie gebod volg direk na die voorskrifte vir die fees van die weke.



Gedurende die fees van die weke word die sinagoge versier met blomme en plante. Een van die gebruike is om deur die nag wakker te bly en die Tora te bestudeer.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS