Bible Society of South Africa

Die tweede brief van Paulus aan die Korintiërs

Die teks wat as die tweede brief van die apostel Paulus aan die gemeente in Korinte oorgelewer is, is waarskynlik saamgestel uit dele van vorige briewe van Paulus. Die dele waaruit 2 Korintiërs saamgestel is, is waarskynlik nie lank na mekaar geskryf nie, moontlik almal in 56 n.C.

Tema

Op die tydstip toe Paulus besig was om 2 Korintiërs te skryf, was sy verhouding met die gemeente erg versteur. In 2 Korintiërs 2:5-11 skryf hy oor die onenigheid wat die laaste keer tussen hom en die gemeente geheers het. Dit maak van 2 Korintiërs een van die eerste dokumente in die geskiedenis van die kerk, wat op ʼn belangrike konflik tussen ʼn gemeenskap van Christene en hulle leier betrekking het.
Hierdie spanning beïnvloed die manier waarop Paulus die Korintiërs aanspreek. Hy wil weer hulle ondersteuning terugwen deur die gebruik van persoonlike en teologiese argumente.
Ander temas is Paulus se lyding (2 Korintiërs 1:5), bemoediging (2 Korintiërs1:3-7), die verbond tussen God en sy volk (2 Korintiërs 3:6-18), versoening (2 Korintiërs 5:14-21), vrygewigheid (2 Korintiërs 8 – 9), grootpratery (2 Korintiërs 10 – 12) en gesigte en openbarings (2 Korintiërs 12:1-10). Ten slotte is dit opmerklik dat die brief vanuit ʼn teologiese oogpunt geskryf is waar die Heilige Gees belangrik is, sonder om spesifiek oor hierdie saak uit te brei.

Styl

2 Korintiërs is een van die mees persoonlike briewe van Paulus. Die brief bevat lang sinne en ʼn uitgebreide teologiese woordeskat. Wat opval, is die kort vrae en antwoorde wat Paulus gebruik om sy opponente op ʼn beslissende manier die swye op te lê (sien bv 2 Korintiërs 11:22-23).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS