Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 15

Vreugde is om te besef jy het genoeg

Bybelteks(te)

Die Here is my herder

1'n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Een Sondag by die Sondagskool moes die kleuters Psalm 23 leer en die eerste vers uit hulle koppe ken. Toe sê die een dogtertjie: “Die Here is my herder. Ek het alles wat ek wil hê!” Sy het hierdie psalm baie goed verstaan. Die psalmdigter het die wonderlike belydenis gemaak: “niks sal my ontbreek nie” (1933/1953-vertaling) en “ek kom niks kort nie.” (1983-vertaling) Hierdie dogtertjie het verstaan as ek die Here het, het ek niks meer nodig nie.

Ons het rede om te aanvaar dat die psalm geskryf is in uiterste nood! Dat die digter die woorde as belydenis gesê het om te bevestig dat die Here die enigste troos in sy lewe is. Die digter het dit as belydenis geskryf: “As ek die Here het, dan het ek genoeg – al word al die ander dinge van my weggeneem!” Al gaan dit sleg met my, ek kom niks kort nie, selfs al het ʼn mens siekte, pyn en ongerief. Ongeag ons omstandighede leer hierdie psalm vir ons as gelowiges dat ons tevrede moet wees want ons kom niks kort nie. Al het ons selfs minder wêreldse dinge. As ons die Here Jesus het, wat het ons meer in die lewe nodig? Soms het gelowiges ʼn gesindheid van ontevredenheid en ondankbaarheid, want hulle kla oor alles en wil altyd hê wat ander het. In Psalm 23 het ons ʼn gelowige se belydenis dat hy tevrede is met wat hy het. Al wat vir die psalmdigter belangrik is, is die teenwoordigheid van die Here en daarom is hy nie bang nie.

Dit is dalk vir jou nodig om vandag ʼn belydenis te maak in lyn met Psalm 23 dat jy tevrede is met wat jy het en wie jy is omdat die Here in jou is. As ons Jesus het, kom ons niks kort nie, dan ly ons geen gebrek nie, dan ontbreek ons niks! Jy het genoeg.

Sal jy vandag so belydenis kan maak? Dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie, as jy die Here het, het jy genoeg. Dit is wat ware vreugde is.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS