Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 16

Vreugde is om God te bewonder

Bybelteks(te)

15So sê Hy wat hoog en verhewe is,

Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is:

Ek woon in 'n hoë en heilige plek

en Ek is by hom wat verdruk en nederig is.

Ek gee nuwe krag aan die nederiges,

Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.

JESAJA 57:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al vir ʼn oomblik gewonder hoe opgewonde jy oor God is? Jou geestelike lewe sal baie verdiep word indien jy tyd neem om God te bewonder. Soms is ons denke so besig om oor God se dade na te dink, dat ons vergeet om oor God self na te dink. As ons na die eerste gebod luister, word ons bewus daarvan dat God wil hê dat ons Hom moet bewonder en aanbid. Jou totale verwondering oor God sal vir jou ʼn onbeskryflike vreugde en vervulling in jou lewe gee. Om ʼn vreugdevolle en vervullende geestelike- en gebedslewe te ondervind begin by die verwondering van God.

Jy kan begin om die eienskappe waarmee God in die Bybel beskryf word te lys en daaroor na te dink. Van die eienskappe is dat God heilig, almagtig, regverdig, liefdevol, genadig, triomfantlik en enig is. Dit is maar ʼn paar daarvan. Neem een eienskap op ʼn keer en kyk hoe die Bybel die eienskap gebruik om God te beskryf. Gebruik dan jou tyd om stil te word en God daaroor te bewonder!

Eers as jy dit reggekry het om jouself oor God te verwonder, sal jy leer om God lief te hê soos Hy liefgehê wil wees. Ons is so vol van ons self dat ons God liefhet op ons voorwaardes. Eers as ons God raaksien vir wie Hy is sal ons leer om Hom lief te hê omdat Hy is wie Hy is. Die wêreld maak soms van God ʼn karikatuur omdat hulle hom nie ken nie. Ons ken maar ten dele en ons liefde is maar beperk. Sodra ons God begin bewonder sal ons lof aan Hom bring en sy grootheid begin raaksien en Hom aanbid vir wie Hy is en nie vir wat ons van Hom maak nie. Dit is wat verwondering van God aan jou doen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS