Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 14

Lewensvreugde is om met hoop te leef

Bybelteks(te)

4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

ROMEINE 5:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is mense wat wonder hoe hulle hoop kan hê terwyl hul met soveel krisisse en beproewings worstel. Al wat hulle sien is die teëspoed en beproewings wat hulle ervaar. Hulle weet nie hoe om meer te hoop nie. Die skrywer van Romeine het dit verstaan, want hy verduidelik hoop as iets wat nie maklik kom nie. Hier word hoop gesien as ʼn geloofsgewoonte wat op ʼn mens groei. Dit groei deurdat die gelowige deur al sy beproewings geloof behou en aan God vashou, al gaan dit hoe sleg met hom. Hoe meer jy volhardend (aanhou) glo, hoe sterker word jou geloof en hoe sterker jou geloof word, hoe sterker word jou hoop. So dit is eers as jy ten spyte van jou beproewings aanhoudend en volhardend glo, wat die hoop in jou lewe sterker word. As jy eers hoop het, dan is daar niks wat jou keer nie, want die hoop beskaam nie.

Wat doen hoop aan jou? Die hoop op God beskaam nooit, want al God se beloftes voer Hy uit. 2 Korintiërs 1:20 leer ons dat Jesus Christus die ja op al die beloftes van God is.

Hoop is die beloning van volhardende geloof. Al word jou beproewings nie minder nie, gee hoop jou ʼn nuwe lewensuitsig. Die boodskap van hoop dat Jesus opgestaan het moet jou iemand maak wat met ʼn doel vir Hom leef. Hierdie lewe met al sy beproewings is nie die finale lewe nie! Hoop gee gelowiges ʼn lewensvreugde wat ander nie verstaan nie. Jy leer om met ander oë na jou eie beproewings te kyk, en vir Jesus raak te sien. Hoop gee jou lewensvreugde omdat Jesus in jou woon.

Mag jy deur al die beproewings waardeur jy gaan aanhou glo en nooit moed opgee nie. Dan sal die hoop in jou groei want die hoop in Jesus Christus beskaam nie. Hy het opgestaan uit die dood!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS