Oor die Bybel
Wie het die Bybel geskryf en wanneer?
Miljoene Christene wêreldwyd glo steeds dat die Bybel die Woord van God is en getuig dat hulle gereeld daaruit lees, dit bestudeer en as ’n riglyn vir hulle lewens gebruik.
Met hierdie nuwe uitgawe van die Afrikaanse 1983-vertaling word Christene van alle ouderdomme, maar veral jongmense, genooi om betrokke te raak by die lees en bestudering van die Woord om dit ’n onmisbare deel van hulle alledaagse lewe te maak. Hierdie uitgawe bevat dus interessante en aktuele materiaal wat die leser keer op keer teruglei na die Woord sodat elkeen uiteindelik soos Dawid kan sê:
“… u woord is my hele lewe.” (Ps. 40:9b)
Saam met hierdie kort oorsig oor hoe die Bybel ontstaan het en saamgestel is, bevat die aanvullende materiaal ’n wye spektrum toepaslike Skrifgedeeltes wat veral jongmense op hul lewenspad kan lei.
Wie het die Bybel geskryf?
Die Bybel is ’n besonderse boek wat oor ’n tydperk van minstens 1 200 jaar geskryf is deur ’n verskeidenheid skrywers, van skaapwagters tot konings. Dit sluit in profete soos Moses, Daniël en Jesaja en geleerde mense soos Esra, konings soos Dawid en Salomo, en apostels van Jesus Christus soos Petrus en Paulus. Omdat daar so baie uiteenlopende skrywers was wat met die oog op heel verskillende situasies geskryf het, “hoor” die Bybelleser die Woord van God uit verskillende perspektiewe. Die wonder van die Bybel is egter dat die verskillende boeke steeds dieselfde basiese boodskap en begrip van wie God is, bevat! Die Bybel is werklik ’n ongelooflike boek want dit spreek mense van alle ouderdomme en nasionaliteite deur alle eeue aan!
Wanneer is die Bybel geskryf?
Lank voordat die skryfkuns uitgevind is (± 4de millennium v.C.), is die geskiedenis van God se volk mondelings van geslag tot geslag oorgedra deur pa’s, ma’s, leiers in die gemeenskap en storievertellers. Later is die vertellings neergeskryf op kleitablette, boekrolle van dierevel (leerperkament) en papirusrolle. Die neerskryf en oorskryf van manuskripte het vir eeue voortgegaan omdat die boekrolle met tyd vergaan het. Trouens, die Hebreërs was so besorg oor hulle antieke geskrifte dat hulle bekend gestaan het as “Die mense van die boek”.
Die ontstaan van die boeke van die Ou Testament strek oor meer as duisend jaar. Die versameling van die boeke het in drie groepe (Wet, Profete en Geskrifte) plaasgevind tydens belangrike krisismomente in die geskiedenis van die Joodse volk. Teen die einde van die 1ste eeu n.C. is die boeke van die Hebreeuse Ou Testament vasgestel. In die Griekse vertaling van die Ou Testament wat aanvanklik in die vroeë kerk gebruik is, was daar ook ander boeke (Apokriewe/Deuterokanonieke boeke) wat nie deel van die Protestante se Bybel is nie, maar in die Rooms-Katolieke kerk gebruik word. Sedert die Kerkhervorming gebruik Protestante net die boeke van die Hebreeuse Ou Testament.
Het jy geweet?
Die woord “Bybel” kom van die Griekse woord biblia wat “boeke” beteken. Die Bybel wat jy nou lees, is dus eintlik ’n minibiblioteek met ’n versameling van 66 boeke. Dit bestaan uit die Ou Testament wat 39 boeke bevat en die Nuwe Testament wat 27 boeke bevat.