Skatkis van wysheid – Dag 17

My hart is leeg …

Bybelteks(te)

SPREUKE 4

23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,

want dit bepaal jou hele lewe.

SPREUKE 4:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Spreuke 4:23

Miskien sê jy: “My hart is nie vol nie, maar eintlik treurig leeg. Ek het geen begeerte om die Here te dien nie. Die enigste ding wat ek met my leë hart doen, is om te kla. Ek word so moeg en so moedeloos.”

Dit is ook die tipe persoon wie se hart die Here wil vernuwe. ʼn Mens dink dat jou lewe eers moet verander voordat die Here dit wil doen. Moet my hart nie eers vol word van liefde en die begeerte om God se verlossing aan te neem nie? Nee, dit hoef nie eers te gebeur nie. Baie mense begin by die buitekant van hul lewe. Die Bybel wys ons egter dat ons by die verkeerde kant begin. Die Bybel begin by die binnekant van die mens, by sy of haar hart. Die hart moet vernuwe word en daaruit word jou hele lewe vernuwe.

Die Here wil jou hart hê soos dit nou is en Hy wil dit vol maak. Hy wil die leegheid in jou hart wegneem en dit met sy Gees volmaak, sodat jou hart gevul word met nuwe hoop en verwagting en met moed en krag. God het sy Seun na die kruis gestuur waar sy hart leeg geloop het om joune vol te maak.

Iemand wat jonk is, kan sê: “My hart is nog jonk en klop van verwagting. Dit bruis van verlange vir die toekoms. Ek hoop om my eksamens te slaag, ek hoop om ʼn goeie loopbaan te volg, ek hoop om te trou, ek hoop om genees te word van my siekte.” ʼn Jongmens se hart kan vol ideale wees. Maar God wil ook vir die jongmens sê om sy/haar hart vir Hom te gee om te vernuwe – met al die verlangens en ideale. Jy het God nodig. Sommige verlangens sal nie in vervulling gaan nie. Dit is beter vir jou. Of dit sal op ʼn heel ander manier in vervulling gaan.

Wanneer die Here ons vra dat Hy ons hart wil vernuwe, dan doen Hy dit met die bedoeling om Hom in ons daaglikse lewe van harte te dien sodat ons hele lewe deur die bekering van ons hart vernuwe word. Dan sal ons die Here met hart en siel vrees.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS