Skatkis van wysheid – Dag 16


My hart is vol …
Bybelteks(te)
SPREUKE 4
PSALMS 147
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Spreuke 4:23
ʼn Mens se hart is nie leeg nie, maar vol van die dinge wat ons persoonlik raak. Dit kan vol vrolikheid wees, maar ook vol verdriet – vol liefde, maar ook vol boosheid.
Miskien is jou hart vol sonde. Jou gewete pla jou dat jy moontlik teen God gesondig het. Tog wil die Here jou hart vernuwe. Hy is die beste kardioloog. Hy is in staat om sonde en skuld te genees. God het sy Seun wie se hart aan die kruis gebreek is, gegee om joune te behou.
Miskien is jou hart vol droefheid. Ander mense weet nie wat ek deurmaak nie. Hulle weet nie van die stryd en die nagte wat ek wakker lê nie. Al bedoel hulle dit ook goed, sal hulle dit nie kan verstaan nie.
Die Here wil betrokke raak en jou hart vernuwe. Jy is geneig om alles op te krop en dit knaag aan jou hart. Dit is nie ʼn lewe nie. Jy raak al hoe meer van balans af. Stel jou hart tot beskikking van die Here en stort jou hart voor Hom uit. “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.” (Psalm 147:3) Die hart van Christus is aan die kruis gebreek om joune te genees.
Miskien is jou hart vol angs. Angs vir mense, vir die satan, vir jouself en die toekoms. Die Here sê jy moet jou hart vir Hom gee, want Hy dryf die vrees weg. Moenie verder krampagtig leef nie. Is daar dalk dinge in jou lewe wat nie vergewe is nie? Bely dit en jy sal uiteindelik vrede hê. Dan sal die vrees ook wyk.
Die hart van Christus is aan die kruis gebreek om ons van die vrees te bevry. Hy het die angste van die hel deurstaan om ons daarvan te verlos. Gee jou hart vir Hom.