Skatkis van wysheid – Dag 18

Versadig of honger?

Bybelteks(te)

SPREUKE 27

7As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie;

as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet.

SPREUKE 27:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

“As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as jy honger is, smaak selfs ʼn bitter ding soet.” Spreuke 27:7

In Israel was heuning ʼn edel en kosbare produk. Mense het dit geëet omdat dit lekker was, maar dit was ook ʼn voedsaam. Johannes die Doper het jare lank op heuning geleef.

In hierdie teks is daar ook sprake van heuning. Anders as wat ʼn mens sou verwag, word die heuning hier nie hoog geag nie. Die 1953-vertaling stel dit meer direk: “ʼn Versadigde siel vertrap die heuningstroop, maar vir ʼn hongerige siel is alles wat bitter is, soet.”

Wat gaan hier aan? Salomo vertel van ʼn man wat hopeloos te veel geëet het. Hy is skoon mislik geëet. Nou gooi hy die kosbare heuning op die grond en trap daarop. Hy gee dit nie eers vir iemand anders nie. Wat ʼn sonde!

Ons leef in ʼn tyd van welvaart. Baie van ons het vroeër ander tye beleef. Toe was daar dikwels geen welvaart nie, maar armoede. Nou is daar oorvloed. Dit sal ʼn studie werd wees om ondersoek in te stel na die kos wat op tafels bedien word van een generasie na die volgende. Deesdae word duur geregte op baie tafels voorgesit.

Moet ons die seëninge wat God ons gee versmaai? Definitief nie. Ons mag dit as geskenk uit God se hand aanvaar. Ons mag diep dankbaar daarvoor wees. Maar wat is nou die gevaar? Dat ons soos die man in ons teksvers raak. Die man wat die heuningstroop vertrap omdat hy oorversadig was.

Hoeveel kos gooi ons nie weg nie? Wêreldwyd word byna ʼn derde van alle voedsel vermors en dit kos die wêreldekonomie miljarde per jaar. En dit is nie omdat ons ondankbaar is oor die kos nie, maar omdat dit nooit genoeg en goed genoeg is nie.

Dit geld nie net vir ons kos nie, maar vir ons hele lewenswyse. Ons ontspanning, ons huise, ons klerekas en ons genotmiddels. Ons kan so gulsig raak, dat ons uiteindelik daarvan siek word. Dan is ons die menslike maatstaf kwyt soos die man in die teksvers.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS