Skatkis van wysheid – Dag 11


ʼn Ma met wysheid
Bybelteks(te)
“ʼn Wyse vrou sorg vir haar huis; ʼn vrou sonder wysheid breek alles af.” Spreuke 14:1
Die woord “huis” verwys na die gesin en nie na die woning nie. Daar is ma’s wat bou aan die woning wat gekoop is. ʼn Groot “verband” moet afbetaal word. Hulle werk hard om die skuld weg te werk. Dit kan gebeur dat die bou van so ʼn huis ten koste is van die bou van die gesin wat in die huis bly. Dit is ʼn ramp. Dit is wonderlik om ʼn mooi huis te bou as dit moontlik is, maar om ʼn gesin te bou, is baie belangriker.
Daarom sê Salomo dat ʼn wyse vrou haar gesin bou. Sy is ʼn evangelis in haar gesin. Sy praat met haar kinders oor die dinge van God se koninkryk. Sy bid en lê die name van haar kinders in die Here se hande. So lê sy die fondament van die lewenshuis van haar kinders.
In die Bybel is daar baie sulke ma’s. Dink aan Hanna, die ma van Samuel, wat tot die Here vir haar kind gebid het en hom aan die Here teruggegee het. Dink aan Eunice, die ma van Timoteus. Sy was ʼn wyse ma om die geloof wat sy by haar ma Lois gekry het, aan haar seun deur te gee.
Ook in die kerkgeskiedenis was daar ma’s wat ʼn invloed op die gebeure in die kerkgeskiedenis gehad het – soos die ma van die kerkvader Augustinus wat gedurig vir haar kinders gebid het. Biskop Ambrosius het gesê ʼn kind van soveel gebed kan nie verlore gaan nie. Augustinus kom tot bekering en word ʼn groot leier in die kerk. Die ma van die Engelse prediker, John Wesley, het agtien kinders gehad. Sy het haar kinders Grieks en Latyn geleer, maar belangriker was dat sy elke aand ʼn uur opsy gesit het om met haar kinders oor God te praat. John se beurt was Donderdagaande. Later skryf hy in sy dagboek dat hy wens hy kon nog een Donderdagaand met sy ma oor die dinge van die koninkryk van God praat.