Skatkis van wysheid – Dag 10

ʼn Ma met wysheid

Bybelteks(te)

SPREUKE 14

1'n Wyse vrou sorg vir haar huis;

'n vrou sonder wysheid breek alles af.

SPREUKE 14:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

“ʼn Wyse vrou sorg vir haar huis; ʼn vrou sonder wysheid breek alles af.” Spreuke 14:1

Die hervormer Martin Luther het gesê dat sy vrou meer werd is as die koninkryk van Frankryk en die Republiek van Venesië, want sy is ʼn vrome vrou wat deur God aan hom gegee is. Uit hierdie woorde blyk hoeveel waarde Luther daaraan geheg het dat sy vrou volgens die woord van God leef. Sy was tot ʼn seën vir hul gesin.

Ook Salomo roem die vrou wat die Here vrees en dien. In vandag se teksvers word die vrou se rol in die gesin op ʼn besondere wyse uitgebeeld. Die ma speel ʼn kernrol in die gesinslewe en in haar kinders se eerste lewensjare, aangesien dit algemeen vir die pa is om selde in of by die huis te wees.

Die gesin sorg vir stabiliteit in die samelewing. In die gesin word die grondslag van die geloofslewe vasgelê. Die ma is die een wat so ʼn voortreflike taak kan doen. Dit is geen vernedering vir ʼn vrou om in die gesin te leef nie inteendeel, dit is ʼn ereplek. Natuurlik kan vroue ook buite die huis hul potensiaal verwesenlik. Daar is baie sulke bekwame vroue. Soms is ʼn tweede inkomste noodsaaklik.

Binne die gesin assosieer die kind ʼn ma met tuiste, beskerming en geborgenheid. Die invloed van ʼn ma is vir ewig. Selfs soldate roep in hulle laaste oomblikke na hul ma.

Salomo prys die vrou wat wys is. Dit hoef nie te beteken dat die vrou ʼn universiteitsgraad hoef te hê nie. Salomo bedoel wel dat ʼn wyse vrou ʼn vrou is wat die Here vrees en eerbied vir die Here het. In Nuwe-Testamentiese taal is dit ʼn vrou wat in Jesus Christus glo, wat vanuit ʼn nuwe liefde vir God as Christen probeer leef.

So ʼn vrou is ʼn koningin, profeet en priester. ʼn Koningin in die regering van haar gesin en ʼn profeet in die vertel van God se woord. Sy is ʼn priester in die liefdevolle en biddende versorging van haar kinders. Uiteraard beteken dit nie dat die taak van die pa ʼn bysaak is nie, maar Salomo wil die besonderse rol van die ma beklemtoon.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS