Skatkis van wysheid – Dag 12

Welvaart

Bybelteks(te)

SPREUKE 15

16Liewer min hê en die Here dien

as groot rykdom en bekommernis daaroor.

17Liewer net 'n bietjie groente en liefde daarby

as 'n vetgemaakte os en haat daarby.

SPREUKE 15:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net ʼn bietjie groente en liefde daarby as ʼn vetgemaakte os en haat daarby.” Spreuke 15:16-17

Salomo vertel van twee gesinne. Die eerste gesin is nie ryk nie. Hulle het min aardse besittings, maar die gesin vrees die Here en daar is eerbied vir sy woord.

Salomo skets ʼn tweede gesin. Daar is geld en dinge, luukses en welvaart. Maar wat is die geval met hierdie gesin? Daar heers onrus. Die gesin is ontwrig en almal is gejaagd. Daar is geen vrede en orde nie.

Hierdie twee gesinne is totaal verskillend. Nou is die vraag, watter gesin verkies ʼn mens? Die ryk gesin of die arm gesin? Salomo verkies die arm gesin, juis omdat hulle die Here vrees.

In die volgende vers sien ons albei gesinne om die tafel. Aan tafel leer ʼn mens die gesin die beste ken. Daar staan nie veel op die tafel van die eerste gesin nie. Daar is ʼn groen gereg, ʼn skottel groente. Vir ʼn Jood in Salomo se dae was dit maar ʼn eenvoudige ete, eintlik ʼn bykos. Niks besonders nie. Tog is die maaltyd wel besonders, want in hierdie gesin heers daar liefde. Dit is asof ʼn mens die gesinsmense vir mekaar hoor sê: “Is dit nie lekker om saam te wees nie? Sorg die Here nie goed vir ons nie?”

Op die tweede gesin se tafel is ʼn groot feesmaal gedek. Die vleis van ʼn spesiale kalf is op die tafel. In Israel was dit besonders. Maar kyk na die mense om die tafel. Hul gesigte is strak. Daar is geen vreugde nie. Hulle loer na mekaar met jaloerse gesigte. Eintlik haat hulle mekaar.

Wat is nou beter? Die arm gesin om die eenvoudige tafel gevul met liefde, of die ryk gesin om die feesmaal wat vol haat is? Die eerste gesin is verreweg die beter opsie. Die liefde staan ver bo die maaltyd uit.

Dit is duidelik wat Salomo bedoel. Egte welvaart rus op twee pilare: die vrees van die Here en liefde vir mekaar. Waar hierdie twee faktore teenwoordig is, is daar ʼn geseënde lewe.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS