Nogtans – Dag 7
Nogtans sal ek U loof
Bybelteks(te)
JOB 1
JOB 1
JOB 1
JOB 42
Hy was een van die bekendste, vernaamste mans in die land. Hy het geld en mag in oorvloed gehad. Integriteit — onvergelykbaar. Hy het God gerespekteer en aanbid en al die regte beginsels in sy lewe gevolg — selfs namens sy kinders offers gebring sou hulle dalk in die geheim teen God gesondig het. Sy lewe was onberispelik.
Op ʼn dag het Satan saam met die hemelwesens voor God se troon gaan staan. Op God se vraag waar hy vandaan kom, het Satan geantwoord dat hy die aarde deurkruis het. God het gevra of hy vir Job gesien het. Hierop het Satan in Job 1:10 duidelik kwaad geantwoord: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig … Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” Vir ʼn oomblik het God nagedink en toe in Job 1:12 gesê: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.”
Binne ʼn dag het Job alles verloor: sy tien kinders, al sy besittings en sy aansien. En waar hy op die ashoop gesit het en met ʼn potskerf aan sy sere gekrap het, is ek seker hy was op die punt om totaal hoop te verloor. Waar was God — die Een wie hy aanbid het? Waarom was Hy stil in die seisoen van sy lewe wat Job Hom die nodigste gehad het? ʼn Magdom vrae het Job oorweldig — met geen antwoorde nie. Selfs sy vrou en vriende wou hom laat glo dat die verlies weens sy eie sonde was.
Het jy jouself al in só ʼn situasie bevind? ʼn Dal van doodskaduwee, ʼn vallei van godverlatenheid? Dalk was jy al op die rand van moedverloor se vlakte. Dalk sit jy vandag daar. Jou huwelik val uitmekaar. Jou skuld hoop op. Jy moes onlangs langs ʼn oop graf afskeid neem en die eensaamheid raak ondraaglik. Jou liggaamskragte is besig om te kwyn weens ʼn siekte. Jy roep uit na God, maar die antwoord bly weg. En diep binne jou wonder jy of Hy van jou vergeet het.
Job het geen verduideliking gehad vir wat met hom gebeur het nie. Alles was loodreg teen wat hy van God se karakter geglo het. Tog, te midde van sy uitdagings, sê hy in Job 1:21-22: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Hy prys God nogtans te midde van sy grootste seer.
God en die hemelwesens het Job dopgehou. Só ook Satan en sy demone. En omdat Job nooit vir God verwyt het nie en die toets van sy geloof en opregtheid deurstaan het, het God nie net sy oorvloed herstel nie, maar dit verdubbel. Boonop het Job God in hierdie tyd die beste leer ken. In Job 42:5 (nadat alles herstel is), lees ons immers Job se woorde:“Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.” Job het besef dat God hom nooit verlaat het of in die steek gelaat het nie (Hebreërs 13:5).
Ons word ook dag na dag dopgehou. En ons optrede in ʼn tyd van stilte, verdriet of teleurstelling sal heel moontlik ook ʼn applous óf uit die hemel óf die hel ontlok. Kom ons hou ons oë op God en kom ons slaag die toets van ons geloof met die wete dat God altyd daar is vir ons. Sterkte.