Nogtans – Dag 8
Nogtans is ek waardevol in u oë
Bybelteks(te)
PSALMS 139
#345 is die naam van die Ierse aartappel waarvan die gerekende fotograaf, Kevin Abosch, ʼn foto geneem het. Groot was sy verbasing toe ʼn onbekende sakeman uit Europa die foto van die aartappel (wat teen ʼn gewone swart agtergrond geneem is) teen sy muur sien hang en ʼn allemintige €1 miljoen aanbied om die foto te koop. Op die vraag of Abosch ooit gedink het dat die aartappel so waardevol sou word, het hy geglimlag en gesê dat hy nie eens die oomblik kon onthou waartydens die foto geneem is nie, aangesien hy daardie dag soveel ander aartappels ook afgeneem het.
In ʼn supermark is ʼn enkele aartappel spotgoedkoop, maar in die regte hande kan ʼn goedkoop aartappel miljoene rande werd wees.
In ons lewens gebeur dit ook soms dat, hoewel God ons met ontsaglike potensiaal geskape het, ons weens verkeerde besluite, teleurstellings of afbrekende woorde van mense wat veronderstel is om vir ons lief te wees, soms goedkoop voel. Dit is waar die vyand ons wil hou. Aan die ander kant moet ons besef dat in God se hand daar geen beperking is op wat Hy in en deur ons lewens kan doen nie.
Kyk maar na Moses. Hy was ʼn hakkelaar, maar God het hom gekies om as spreekbuis op te tree en die Israeliete uit slawerny te lei. Gideon was ʼn bang soldaat met ʼn minderwaardigheidskompleks, maar God gebruik hom om die Israeliete tydens ʼn belangrike veldslag te lei. Dawid was ʼn skaapwagter en die jongste van al sy broers, maar God kies hom as koning van Israel omdat sy hart reg was. En Ragab was ʼn prostituut, maar God gebruik haar om die spioene se lewens in Jerigo te red omdat sy bereid en beskikbaar was.
In Handelinge 10:34-35 lees ons dat God nie ʼn aannemer van persoon is nie. Hy het ons almal ewe lief en in Jeremia 29:11 sê Hy dat Hy vir ons elkeen planne van voorspoed en nie teenspoed het nie. Ook die Psalmdigter herinner ons in Psalm 139:13-18 dat Hy ons as waardevol ag: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder … Wat U gedoen het, vervul my met verwondering … U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”
Die Ierse aartappel, #345, kon niks doen om meer waardevol te word nie. Dit was bloot op die regte tyd in die regte hande geplaas. Dag tot dag kyk God af aarde toe en Hy soek na mense wat bereid en beskikbaar is om as sy instrumente gebruik te word (2 Kronieke 12:9). Mag ons opnuut besef hoe waardevol ons in sy oë is en mag ons onsself beskikbaar stel vir Hom. Wanneer ons dit doen, mag ons dalk net verstom staan oor hoe Hy ons kom genees van ons seer en met nuwe selfvertroue kom vervul. Hy sal ons deur sy genade gebruik om groot, prominente en belangrike dinge vir Hom te vermag. Sterkte.