Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 6

Nogtans sal ek vasstaan

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 16

Laaste versoek en groete

13Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!

1 KORINTIËRS 16:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 125

Die Here beskerm sy volk

1'n Pelgrimslied.

Dié wat op die Here vertrou,

is soos Sionsberg

wat nie wankel nie

en altyd vas bly staan.

PSALMS 125:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KORINTIËRS 10

13Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

1 KORINTIËRS 10:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 KORINTIËRS 12

9aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees.

1 KORINTIËRS 12:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek hoor op ʼn dag die storie van ʼn paartjie wat opgewonde die bouplanne van hulle eerste huis by die munisipaliteit laat goedkeur het. Gedurende die voorbereidingsproses waartydens die plot skoongemaak word voordat die fondament gegrawe word, het die bouers egter ʼn hindernis beleef: Presies waar die leefkamer volgens die bouplanne moes kom was daar ʼn hardnekkige rots in die grond.

Ná verskeie mislukte probeerslae om die groot, swaar rots uit die grond te grawe, het die bouers die aftog geblaas. Die rots is behou en die leefkamer se bouplan is só aangepas dat die rots ʼn fokuspunt in die vertrek sou wees.

Ons beleef ook van tyd tot tyd uitdagings in ons lewens wat ons van stryk wil bring. Dalk is joune die feit dat jy die enigste gelowige in jou werkplek is en teenkanting juis weens jou geloof ervaar. Of dalk het jy slegte nuus oor jou gesondheid ontvang, dalk bly jy werkloos al stuur jy honderde CV’s uit, dalk het dit nog nie op jou plaas gereën nie al bid jy dag en nag vir verligting van die droogte, of dalk het julle onlangs daardie ongebore babatjie verloor waarvoor julle al so lank wag en bid. Hoe bid jy nou? Staan jy nogtans vas in jou geloof en vertroue in die Een wat voorsien?

In 1 Korintiërs 16:13 lees ons: “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!” Ook in Psalm 125:1 skryf die Psalmdigter: “Die mense wat glo dat die Here hulle sal help, is soos die Sionsberg wat nie val nie en wat altyd daar is” (die Bybel vir almal-vertaling). ʼn Ander Bybelvertaling vergelyk só iemand wat in geloof bly vasstaan met ʼn rots wat met geen hyskraan of koevoet beweeg kan word nie. Hy staan eenvoudig rotsvas.

Al voel jy soms te swak om selfs net een tree vorentoe te gee, kan jy weet dat God van jou situasie weet. In 1 Korintiërs 10:13 lees ons: “Geen versoeking wat meer is as wat ʼn mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Ook in 2 Korintiërs 12:9 staan geskryf: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Mag ons soos daardie hardnekkige rots in geloof en vertroue vasstaan ten spyte van uitdagende situasies. Dit is immers wanneer ons die toets slaag en die deurbraak beleef, dat ons terugkyk op die moeilike tyd en dat dit ʼn “fokuspunt” in ons geloofslewe word waaroor ons oor God se goedheid kan getuig. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS