Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 167

Job 28–33

Bybelteks(te)

Job: Om die Here te dien, dit is wysheid

1“Daar is 'n plek waar silwer uitgehaal word,

'n plek waar goud gesmelt word.

2Yster word uit die grond gehaal

en koper word uit erts gesmelt.

3Die mens maak 'n einde aan die donker,

hy soek erts in die diepste plekke, in die donkerste hoeke.

4Hy grawe 'n skag waar niemand woon nie,

op plekke waar niemand kom nie,

ver van mense af hang hy en swaai hy.

5Die aarde waaruit die voedsel kom,

word daar onder oopgebreek met vuur.

6Uit die klip van die aarde kom saffier,

ook korreltjies goud.

7Geen roofvoël ken daardie pad nie,

die oog van 'n valk kan dit nie sien nie,

8roofdiere loop nie daar nie,

die leeu gaan nie daarlangs nie.

9“Die mens bewerk die harde rots met sy hande,

hy keer die dieptes van die berge om,

10hy grawe gange deur die rots,

sy oog sien al die skatte,

11hy stop waterare toe

en bring verborge dinge aan die lig.

12Maar die wysheid, waar word dié gevind,

waar is die woonplek van die insig?

13Die mens ken nie die waarde daarvan nie,

en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie.

14Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie,’

die see sê: ‘By mý is dit nie!’

15Goud kan dit nie koop nie,

sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie.

16Daarvoor kan nie betaal word met die goud van Ofir

of met kosbare oniks en saffier nie;

17goud en glas kom nie daarby in waarde nie,

vir voorwerpe van fyn goud kan 'n mens dit nie ruil nie.

18Koraal en kristal word nie eers gereken nie,

wysheid is baie meer werd as pêrels.

19Topaas uit Kus kom nie daarby in waarde nie,

selfs met suiwer goud kan jy nie daarvoor betaal nie.

20Die wysheid, waar kom dit vandaan?

Waar is die woonplek van die insig?

21Dit is verborge vir al wat lewe,

weggesteek selfs vir die voëls in die lug.

22Die onderwêreld en die dood sê:

‘Ons het maar net 'n gerug daaroor gehoor.’

23Net God weet hoe die pad daarheen loop,

net Hy ken die woonplek van die wysheid,

24want Hy sien die verste eindes van die aarde,

Hy aanskou alles onder die hemel.

25Toe Hy die krag van die wind bepaal het

en die waters uitgemeet het,

26toe Hy vir die reën reëls gemaak het

en 'n pad vir die weerlig aangewys het,

27toe het Hy die wysheid gesien en daarvan vertel,

toe het Hy dit vasgestel en deurvors.

28En Hy het vir die mens gesê:

Om die Here te dien, dit is wysheid,

om die kwaad te vermy, dit is insig.”

Job: Toe ek nog 'n vertroueling van God was

1Daarna het Job voortgegaan om sy saak te stel:

2“Kon dit maar weer met my gaan soos lank gelede,

soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het,

3toe sy lig beskermend oor my geskyn het

en my pad in die donker verlig het.

4Dit was die beste jare van my lewe

toe ek nog 'n vertroueling van God was.

5Toe was die Almagtige by my

en my kinders rondom my.

6Ek het oral voorspoed geniet:

volop dikmelk en strome olyfolie.

7Wanneer ek na die stadspoort toe gegaan het,

my plek op die stadsplein gaan inneem het,

8het die jongmanne opsy gestaan as hulle my sien,

het die ou manne eerbiedig opgestaan.

9Die leiers het stilgebly,

hulle het nie gepraat nie.

10Die vernames het nie 'n woord gesê nie,

hulle het uit eerbied geswyg.

11Dié wat van my gehoor het, het goed van my gepraat,

dié wat my gesien het, het my geprys

12omdat ek die armes gered het wat om hulp roep,

die weeskind en dié wat geen helper het nie.

13Die man wat met ondergang bedreig was,

het my vir sy redding gedank,

en ek het die hart van die weduwee bly gemaak.

14Ek het reg en geregtigheid laat geskied;

vir my was dit vanselfsprekend,

so vanselfsprekend as om klere aan te trek.

15Ek was oë vir die blindes

en voete vir die kreupeles,

16ek was 'n vader vir die armes,

ek het selfs onbekendes se regsaak behartig.

17Ek het die mag van dié wat onreg doen, gebreek,

ek het die prooi uit hulle tande weggeruk.

18Daarom het ek gedink:

ek sal eendag sonder sorge sterf in my eie huis,

my lewensdae sal meer wees as wat daar sand is,

19ek sal wees soos 'n boom met sy wortels by die water

en elke môre dou op sy takke,

20ek sal altyd nuwe krag hê,

ek sal my man kan staan.

21Mense het vol verwagting na my geluister,

hulle het in spanning gewag op my raad.

22Nadat ek gepraat het, het hulle niks gesê nie,

hulle het my woorde ingedrink,

23hulle het daarop gewag soos op 'n reënbui,

hulle het daarna gesmag soos na die laat reëns.

24Ek was vriendelik met hulle

toe hulle geen hoop meer gehad het nie,

my goedgesindheid het verhoed dat hulle ondergaan.

25Ek het hulle die koers gewys,

ek was hulle leier,

ek was tussen hulle soos 'n koning tussen sy soldate,

soos een wat treurendes troos.”

Job: Nou is daar geen hoop meer vir my nie

1“Maar nou lag hulle vir my, mense wat jonger is as ek,

mense wie se vaders ek nie werd geag het

om saam met die honde

my kleinvee op te pas nie.

2Buitendien, wat sou hulle vir my kon beteken?

Hulle is tot niks in staat nie:

3hulle is uitgeteer deur gebrek en honger,

hulle kou snags aan droë stokke in die dorre woestyn;

4hulle pluk aan brakbossies en struike,

die wortels van die besembos is vir hulle kos;

5hulle is uitgestoot uit die gemeenskap,

daar word op hulle geskel soos op diewe;

6hulle woon in die beddings van spruite,

in gate in die grond en tussen die rotse;

7hulle balk soos wildedonkies tussen die struike,

hulle soek skuiling in die bossies;

8hulle is mense sonder verstand, sonder eer,

uitgedryf uit die land.

9“En nou sing hulle liedjies oor my

en word ek deur hulle bespot.

10Hulle verafsku my en wil niks met my te doen hê nie,

dit is vir hulle niks om my in die gesig te spoeg nie.

11God het my weerloos gemaak, hulpeloos;

mense behandel my nie meer met eerbied nie.

12Die gespuis val my goedsmoeds aan,

hulle stamp my onderstebo,

hulle bewerk my ondergang,

13hulle breek my lewenspad op,

hulle kry dit reg om my te vernietig

sonder dat iemand hulle help.

14Soos deur 'n wye bres kom hulle aan,

kom hulle tussen die puinhope deur aangestorm,

15en ek word deur angs oorval;

my aansien het soos wind weggewaai,

my hoop op uitkoms het soos 'n wolk verdwyn.

16“Nou is daar geen hoop meer vir my nie,

ondergang staar my elke dag in die gesig.

17Elke nag skiet pyne deur my liggaam,

knaagpyne wat nie end kry nie.

18Deur die groot geweld van God hang my klere vormloos aan my,

word ek gewurg soos deur 'n boordjie om my nek.

19Hy gooi my in die modder asof ek stof en as is.

20Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie.

Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie.

21U draai U teen my met u geweld,

U val my aan met mag.

22U tel my op en laat die wind my wegwaai,

U ruk my heen en weer in u stormwind.

23Ek weet dat U my bestem vir die dood,

die plek waar alle mense saamkom.

24Sal ek hier van my puinhoop af dan nie my hand uitsteek om hulp nie?

Sal ek in my ondergang nie om hulp roep nie?

25Het ek nie trane gestort vir dié wat swaarkry nie,

het ek nie meegevoel betoon met die armes nie?

26Ek het toe die goeie verwag, maar rampe het my getref,

ek het uitgesien na lig, maar donker het my oorval.

27Dit kook in my, ek kom nie tot rus nie,

dae vol swaarkry bly my inwag.

28Ek het swart geword, maar nie van sonbrand nie.

So staan ek hier tussen julle en roep om hulp.

29Al broers wat ek het, is die jakkalse;

al vriende wat ek het, volstruise.

30Oor my hele lyf het my vel swart geword,

ek gloei van die koors.

31Al wat vir my oorbly, is 'n treurlied op die lier,

'n lied van trane op die fluit.”

Job: Ek het my saak gestel

1“Ek het my plegtig verbind

om nie na 'n meisie te kyk en haar te begeer nie.

2Wat kom 'n mens toe van God in die hemel,

wat gee die Almagtige daar van bo af?

3Vernietiging tref immers die bóósdoener,

'n ongeluk dié wat onreg doen.

4God hou my paaie dop

en tel elke tree wat ek gee.

5“As ek my sou opgehou het met valsheid,

agter bedrog sou aangehardloop het,

6laat God my dan weeg op 'n betroubare skaal

dat Hy kan weet dat ek onskuldig is.

7As ek die spoor byster geraak het,

my deur my begeerte laat lei het

en my hande besoedel het,

8laat ander mense eet wat ek gesaai het,

of laat my gesaaides uitgeruk word.

9As ek my deur 'n ander se vrou laat verlei het

en gretig geloer het na my buurman se deur,

10laat mý vrou dan vir 'n ander man koring maal,

laat ander by haar slaap.

11As ek so iets gedoen het, sou dit 'n skande gewees het,

'n misdaad vir regters om te straf.

12Dit sou 'n vuur gewees het wat alles vernietig

en al my besittings verteer.

13As ek nie reg gedoen het aan my slawe en slavinne

toe hulle 'n grief teen my gehad het nie,

14wat sou ek kon doen as God van my rekenskap eis,

hoe sou ek my kon verweer as Hy my tot verantwoording roep?

15Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het,

hulle nie ook gemaak nie?

Het Hy ons nie almal gevorm nie?

16Het ek armes geweier wat hulle gevra het

en weduwees van honger laat vergaan?

17Het ek my stukkie kos alleen geëet

en die weeskind nie ook daarvan laat eet nie?

18Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind 'n pa,

van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg.

19Het ek 'n arme sonder klere sien rondswerwe

en hom nie iets gegee om aan te trek nie?

20Het hulle my nie juis geprys

omdat my skape se wol hulle warm gehou het nie?

21Het ek my hand teen 'n weeskind opgelig

omdat ek kon reken op die partydigheid van die regters?

22As ek aan iets hiervan skuldig is,

mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af,

mag my arm afgebreek word.

23Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang,

teen sy majesteit kan ek niks doen nie.

24Het ek op goud my vertroue geplaas,

het ek gedink fyn goud sal my sekerheid gee?

25Het ek al my vreugde gevind in my groot rykdom,

in die besittings wat ek bymekaargemaak het?

26Het ek die son sien skyn,

die maan in sy prag sien beweeg,

27en my laat verlei

om hulle te vereer met 'n soen op my hand?

28Dit sou 'n sonde wees wat gestraf moes word,

want dan sou ek God daarbo verloën het.

29Het ek my verheug oor die ongeluk van my vyand,

was ek bly as 'n ramp hom tref?

30Nee, ek het nie met 'n enkele woord gesondig

en hom dood gewens nie.

31Het die mense in my diens ooit gesê:

‘By Job het ons nie genoeg gekry om te eet nie’?

32Selfs 'n vreemde het nooit by my buite geslaap nie,

vir 'n reisiger het my deure altyd oopgestaan.

33Het ek soos ander my oortredinge weggesteek

en my sonde vir myself gehou

34omdat ek vir die mense bang was

en die minagting van die familie gevrees het?

Het ek stilgebly en dit nie buite gewaag nie?

35Is daar dan niemand wat na my luister nie!

My saak het ek gestel:

nou moet die Almagtige my antwoord.

“As iemand wat 'n klag teen my het,

dit op skrif sou stel,

36sou ek dit sonder meer bekend maak;

dit sal nie vir my 'n skande wees nie.

37Ek kan rekenskap gee van elke tree wat ek gegee het,

ek kan my teëstander met vrymoedigheid tegemoet gaan.

38As die grond wat ek bewerk, 'n klag teen my het

en sy ploegvore saam sou protesteer,

39as ek sy opbrengs verteer het sonder vergoeding aan sy eienaars

en hulle van honger laat vergaan het,

40mag daar dan dorings groei in plaas van koring,

onkruid in plaas van gars.”

Dit is die einde van Job se woorde.

Elihu: Voor God is ek en jy gelyk

1Toe die drie vriende ophou om Job te antwoord omdat hy volgehou het dat hy onskuldig is, 2het Elihu seun van Barakel, 'n Bussiet uit die familie van Ram, kwaad geword vir Job. Elihu het kwaad geword omdat Job volgehou het dat hy reg het, nie God nie. 3Elihu was ook kwaad vir die drie vriende van Job omdat hulle Job nie reg geantwoord het nie en nie aangetoon het dat hy skuldig is nie. 4Terwyl die vriende met Job aan die praat was, het Elihu stilgebly, want hulle was ouer as hy. 5Maar toe hy merk dat die drie manne Job nie verder antwoord nie, het hy kwaad geword.

6Elihu seun van Barakel die Bussiet het begin praat:

“Ek is jonk, en julle is grysaards.

Daarom was ek huiwerig,

ek was bang om vir julle te sê wat ek weet.

7Ek het gedink: laat die ouderdom praat,

laat die ervaring sy wysheid meedeel.

8Maar dit is die gees in die mens

wat die mens insig gee,

die gees wat van die Almagtige af kom.

9Dit is nie die baie jare wat verstandig maak

en aan oumense insig gee in wat reg is nie.

10Daarom sê ek: Luister na my,

ek sal ook sê wat ek weet.

11Ek het julle laat praat,

ek het geluister na julle argumente

om te kyk of julle by die regte antwoord uitkom.

12My aandag was op julle toegespits,

maar nie een van julle het vir Job behoorlik berispe

of sy argumente weerlê nie.

13Moet nou net nie sê:

‘Ons het die wysheid gevind;

God, nie 'n mens nie, sal met Job afreken’ nie.

14Met my het Job nog nie geargumenteer nie,

en met júlle argumente sal ék hom nie pak nie.

15As die vriende verslae staan,

as hulle niks meer het om te sê nie,

as woorde hulle ontbreek,

16as hulle nie praat nie,

as hulle daar staan en verder niks sê nie,

moet ek nog langer stilbly?

17Ek wil ook 'n beurt hê om te praat,

ek wil ook sê wat ek weet.

18Ek het baie om te sê,

my gees dwing my om te praat.

19Dit kook in my

soos wanneer wyn nie klaar gegis het nie

en selfs nuwe wynsakke wil laat oopbars.

20Ek moet praat, ek moet my gemoed lug,

ek moet vir Job begin antwoord.

21Ek sal niemand voortrek nie,

ek sal vir niemand partydig wees nie.

22Partydig wees kan ek nie,

want dan sou my Maker my in 'n oogwink laat verdwyn.

1Luister nou na my, Job,

luister wat ek sê.

2Ek gaan nou praat,

my woorde lê al op my tong.

3Ek gaan reguit praat,

ek gaan eerlik sê wat ek weet.

4Die Gees van God het my gemaak,

die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.

5Antwoord my as jy kan,

maak jou klaar om my teë te staan.

6Voor God is ek en jy gelyk,

ook ék is maar net uit klei gevorm.

7Ek wil jou nie die skrik op die lyf ja nie,

ek sal dit nie vir jou moeilik maak nie.

8Ek het jou met my eie ore hoor sê,

hier waar ek dit gehoor het, het jy gesê:

9‘Ek is onskuldig, ek het nie oortree nie,

ek is rein, ek het nie gesondig nie.

10Tog soek God fout by my,

beskou Hy my as sy vyand.

11Hy behandel my as 'n gevangene,

Hy hou elke voetstap van my dop.’

12Ek sê vir jou: Hierin is jy verkeerd;

God is meer as die mens.

13Waarom beskuldig jy vir God?

Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.”

Elihu: God spreek die mens aan

14“God spreek die mens aan,

Hy huiwer nie om dit op meer as een manier te doen nie.

15Hy praat met die mens in 'n droom, in 'n gesig in die nag,

wanneer die mens diep slaap,

wanneer hy vas slaap op sy bed.

16Dan openbaar God Hom aan die mens

en dreig dat Hy hom sal straf

17om hom van verkeerde dade af weg te hou

en hom van hoogmoed te weerhou.

18God wil die mens nie die graf laat ingaan nie,

Hy wil hom nie laat sterf nie.

19“Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte,

met pyn wat aan sy liggaam knaag,

20sodat alle kos hom walg,

selfs die lekkerste ete.

21Die vleis aan sy liggaam is so weggevreet

dat jy dit nie meer kan sien nie,

jy sien nou net been.

22Hy is op pad na sy graf toe,

na dié toe wat klaar dood is.

23As daar dan 'n engel by hom sou wees,

een uit duisende, wat vir hom pleit,

en vir hom sê wat sy plig is,

24wat hom jammer kry en sê:

‘Red hom dat hy nie sterf nie,

ek het 'n losprys vir hom,’

25dan sal sy liggaam weer jonk word,

weer word soos in die dae van sy jeug.

26Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor,

hom met vreugde laat bid,

hom 'n mens maak wat weer reg leef voor God.

27Dan getuig hy voor die mense:

‘Ek het gesondig, my nie gesteur aan wat reg is nie,

en tog het God my nie gestraf soos ek verdien nie.

28Hy het my gered, ek het nie gesterf nie,

nou lewe ek weer.’

29“Dit alles doen God met die mens,

selfs meer as een keer.

30So keer God die mens weg

van die graf af

en laat Hy hom weer lewe.

31“Luister, Job, luister na my,

bly stil, ek wil praat.

32Of as jy tog iets vir my wil sê,

sê dit dan,

praat, ek sal jou graag gelyk wil gee.

33Maar as jy niks het om te sê nie, luister na my, bly stil, laat ek jou leer wat wysheid is.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS