Job: Nou is daar geen hoop meer vir my nie
1“Maar nou lag hulle vir my, mense wat jonger is as ek,
mense wie se vaders ek nie werd geag het
om saam met die honde
my kleinvee op te pas nie.
2Buitendien, wat sou hulle vir my kon beteken?
Hulle is tot niks in staat nie:
3hulle is uitgeteer deur gebrek en honger,
hulle kou snags aan droë stokke in die dorre woestyn;
4hulle pluk aan brakbossies en struike,
die wortels van die besembos is vir hulle kos;
5hulle is uitgestoot uit die gemeenskap,
daar word op hulle geskel soos op diewe;
6hulle woon in die beddings van spruite,
in gate in die grond en tussen die rotse;
7hulle balk soos wildedonkies tussen die struike,
hulle soek skuiling in die bossies;
8hulle is mense sonder verstand, sonder eer,
uitgedryf uit die land.
9“En nou sing hulle liedjies oor my
en word ek deur hulle bespot.
10Hulle verafsku my en wil niks met my te doen hê nie,
dit is vir hulle niks om my in die gesig te spoeg nie.
11God het my weerloos gemaak, hulpeloos;
mense behandel my nie meer met eerbied nie.
12Die gespuis val my goedsmoeds aan,
hulle stamp my onderstebo,
hulle bewerk my ondergang,
13hulle breek my lewenspad op,
hulle kry dit reg om my te vernietig
sonder dat iemand hulle help.
14Soos deur 'n wye bres kom hulle aan,
kom hulle tussen die puinhope deur aangestorm,
15en ek word deur angs oorval;
my aansien het soos wind weggewaai,
my hoop op uitkoms het soos 'n wolk verdwyn.
16“Nou is daar geen hoop meer vir my nie,
ondergang staar my elke dag in die gesig.
17Elke nag skiet pyne deur my liggaam,
knaagpyne wat nie end kry nie.
18Deur die groot geweld van God hang my klere vormloos aan my,
word ek gewurg soos deur 'n boordjie om my nek.
19Hy gooi my in die modder asof ek stof en as is.
20Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie.
Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie.
21U draai U teen my met u geweld,
U val my aan met mag.
22U tel my op en laat die wind my wegwaai,
U ruk my heen en weer in u stormwind.
23Ek weet dat U my bestem vir die dood,
die plek waar alle mense saamkom.
24Sal ek hier van my puinhoop af dan nie my hand uitsteek om hulp nie?
Sal ek in my ondergang nie om hulp roep nie?
25Het ek nie trane gestort vir dié wat swaarkry nie,
het ek nie meegevoel betoon met die armes nie?
26Ek het toe die goeie verwag, maar rampe het my getref,
ek het uitgesien na lig, maar donker het my oorval.
27Dit kook in my, ek kom nie tot rus nie,
dae vol swaarkry bly my inwag.
28Ek het swart geword, maar nie van sonbrand nie.
So staan ek hier tussen julle en roep om hulp.
29Al broers wat ek het, is die jakkalse;
al vriende wat ek het, volstruise.
30Oor my hele lyf het my vel swart geword,
ek gloei van die koors.
31Al wat vir my oorbly, is 'n treurlied op die lier,
'n lied van trane op die fluit.”