Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 168

Job 34–37, Spreuke 21

Bybelteks(te)

Elihu: Dit is vir God onmoontlik om verkeerd te doen

1Elihu het voortgegaan:

2“Hoor wat ek te sê het, julle wat die wysheid het,

luister na my, julle wat die kennis het.

3Die oor toets woorde

soos die verhemelte kos proe.

4Laat ons uitmaak wat reg is,

self vasstel wat goed is.

5Job het gesê: ‘Ek is onskuldig,

maar God laat nie aan my reg geskied nie.

6Al het ek die reg aan my kant,

word ek vir 'n leuenaar gehou.

Al is ek nie skuldig nie,

is ek dodelik getref.’

7Is daar nog 'n mens soos Job

vir wie laster is soos water drink?

8Hy maak vriende met dié wat onreg doen,

hy gaan om met die goddeloses.

9Hy het beweer: ‘Dit baat 'n mens nie

om die wil van God te doen nie.’

10Maar luister na my, julle wat alles verstaan!

God doen nie verkeerd nie,

die Almagtige begaan nie 'n onreg nie.

11Hy straf die mens net vir wat hy doen,

Hy laat hom maar net kry wat hy verdien.

12Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen,

vir die Almagtige om die reg te verdraai.

13Het iemand die aarde aan God toevertrou?

Het iemand Hom oor die hele wêreld aangestel?

14As Hy sou besluit

om sy gees, sy asem, na Hom toe terug te neem,

15dan sou al wat leef, sterf,

en die mens weer stof word.

16As jy verstand het, luister hierna,

hoor wat ek te sê het.

17Iemand wat die reg haat, durf tog nie regeer nie.

Kan jy vir God wat regverdig en magtig is, skuldig vind?

18Hy sê selfs vir 'n koning:

‘Jy is niks werd nie’

en vir vername mense: ‘Julle is sleg.’

19Hy is nie partydig vir leiers nie,

Hy bevoordeel die ryke nie bo die arme nie, want Hy het hulle almal gemaak.

20In 'n oogwink sterf hulle,

in die middel van die nag oorval die doodsvrees hulle,

hulle sterf,

selfs die sterkes verdwyn sonder toedoen van mense.

21Hy hou die pad van die mens dop

en sien elke tree wat hy gee.

22Daar is nie 'n donkerte of duisternis

waar dié wat onreg doen, kan wegkruip nie.

23God hoef nie verder navraag te doen

wanneer 'n mens voor Hom verskyn vir die oordeel nie.

24Hy hoef nie vooraf ondersoek in te stel

voor Hy sterkes vernietig

en ander in hulle plek aanstel nie.

25Hy sien alles raak wat hulle doen

en oornag maak Hy dit tot niet.

26Waar almal dit kan sien,

straf Hy hulle vir hulle goddeloosheid,

27want hulle het Hom nie bly dien nie

en hulle nie aan sy wil gesteur nie:

28die armes moes na Hom om hulp roep,

Hy moes luister na die hulpgeroep van mense in nood.

29“As Hy stilbly, wie kan Hom veroordeel?

As Hy Hom verberg, wie kan Hom sien?

Hy alleen heers oor volke en mense.

30Hy wil nie dat 'n godlose oor mense regeer

en hulle ondergang bewerk nie.

31“As jy vir God sou sê:

‘Ek het my teen U verhef, maar ek sal nie weer oortree nie;

32leer U my wat ek self nie weet nie;

as ek verkeerd gedoen het,

sal ek dit nie weer doen nie,’

33sal God jou dan nog straf

omdat jy Hom geminag het?

“Jý moet kies, nie ék nie,

jy weet hoe sake staan. Praat!

34Mense met insig, enige verstandige mens

wat my hoor, sal sê:

35‘Job praat sonder kennis,

sy woorde is sonder insig.’

36Maar Job moet end-uit getoets word,

want sy argumente is dié

van die goddelose mense.

37Hy hoop sonde op sonde,

hier tussen ons verlustig hy hom daarin,

hou hy aan met praat teen God.”

Elihu: Wat jy praat, is wind

1Elihu het voortgegaan:

2“Dink jy dit handel die saak af

as jy sê: ‘Ek sal my reg van God ontvang’

3en dan aanhou om te sê: ‘Wat baat dit my,

wat kan ek wen as ek nie sondig nie?’

4Daarop sal ek jou

en ook jou vriende by jou antwoord.

5Kyk op, kyk na die hemel,

kyk na die wolke hoog bokant jou:

6as jy sondig, wat doen dit aan God,

as jy baie keer oortree, hoe raak dit Hom,

7as jy sonder sonde is, wat baat dit Hom,

wat kry Hy van jou?

8Jou sonde raak jou medemens

en jou onskuld raak jou medemens.

9“Mense roep om hulp onder hulle swaar verdrukking,

hulle soek hulp teen die geweld van mense met mag.

10Maar hulle vra nie na God, hulle Maker,

na Hom wat selfs in die nag

'n lied kan laat sing nie,

11na Hom wat aan ons meer verstand gegee het as aan die diere,

meer insig as aan die voëls.

12Mense roep om hulp,

maar Hy antwoord nie,

want hulle is vol hoogmoed en boosheid.

13God luister nie na hol woorde nie,

die Almagtige slaan daar geen ag op nie,

14ook nie as jy sê dat jy Hom nie sien nie,

dat jou saak voor Hom is, dat jy op Hom wag nie,

15as jy sê Hy straf nie in sy toorn nie,

Hy dra geen kennis van die sonde nie.

16Job, wat jy praat, is wind,

jy praat en praat, maar sonder kennis.”

Elihu: Dink na oor die wonderdade van God

1Elihu het voortgegaan:

2“Wag nog 'n bietjie, laat ek verder met jou praat,

daar is nog argumente vir God se saak.

3My kennis kom van ver af,

ek wil aantoon dat my Maker regverdig is.

4Wat ek sê, is nie versinsels nie,

ek weet wat ek praat.

5God is magtig maar Hy sien op niemand neer nie;

Hy is magtig en sy wysheid is groot.

6Hy laat die goddeloses nie in die lewe bly nie,

Hy laat reg geskied aan die verdruktes,

7Hy sorg vir die regverdiges.

Hy laat konings regeer, selfs baie lank.

Maar as hulle hulle verhef,

8word hulle gevangenes, vasgevang in boeie,

geknel deur swaarkry.

9So laat God hulle besef wat hulle gedoen het,

hoe hulle gesondig het toe hulle hoogmoedig geword het.

10Hy laat hulle ag gee op sy bestraffing,

Hy vermaan hulle om hulle van die sonde te bekeer.

11As hulle luister en Hom dien,

sal hulle hulle dae in voorspoed deurbring,

hulle jare in welvaart.

12As hulle nie luister nie,

sal hulle sterf,

sal hulle doodgaan omdat hulle nie tot insig wou kom nie.

13Die godloses hoop die toorn van God

nog meer teen hulle op,

hulle roep selfs nie om hulp as God hulle in boeie laat vasvang nie.

14Hulle gaan jonk dood,

hulle skandelike lewe is gou verby.

15Maar God bevry die mense in nood uit hulle ellende,

Hy laat hulle op Hom ag gee in hulle verdrukking.

16God het jou na Hom toe getrek, weg van gevaar af,

Hy het jou veilig laat lewe,

dit was rustig aan jou tafels vol oorvloed.

17Maar nou het die oordeel wat die goddelose toekom,

jou voluit getref,

oordeel en straf het jou ingehaal.

18Moenie dat jou grief jou tot uittarting verlei nie,

moenie jou saak wil regstel met 'n groot omkoopgeskenk nie.

19Kan hulpgeroep jou help?

Nie in jou ellende nie!

Ook nie al roep jy met al die krag waaroor jy beskik nie.

20Moenie smag na die donker van die nag,

die tyd wanneer mense sterf nie.

21Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie,

jy verkies dit immers bo swaarkry.

22Die mag van God is groot,

wie kan 'n mens tot insig bring soos Hy?

23Wie kan van Hom rekenskap eis oor sy dade?

Wie kan sê: ‘U het verkeerd gedoen’?

24Dink liewer daaraan om sy werk te roem,

sy werk wat deur mense besing moet word.

25Alle mense kan dit sien,

al neem hulle dit net van ver af waar.

26God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp nie,

sy jare kan nie bereken word nie.

27Hy trek vog op uit die see,

Hy haal reën uit die groot waters uit,

28dan giet die wolke water uit,

laat hulle dit op al die baie mense val.

29Kan iemand verstaan hoe die wolke beweeg

en hoe die weer dreun daar in die woonplek van God?

30Hy versprei die weerlig deur die lug,

en bedek die bodem van die see.

31So regeer Hy oor die volke

en gee Hy kos in oorvloed.

32Hy vat die weerlig in sy hand

en stuur dit op die doelwit af.

33Die onweer kondig aan dat die storm kom,

die vee snuif die lug op voor die storm losbreek.

1Dan begin ek bewe

en gaan my hart aan die ruk.

2Hoor hoe bulder die stem van God,

hoe dreun dit uit sy mond!

3Hy laat dit losbreek in die hemelruim,

Hy laat dit blits tot by die uithoeke van die wêreld,

4en dan kom die donderslag.

God laat sy magtige stem hoor,

Hy stuur die onweer in volle krag

wanneer Hy sy stem laat hoor.

5Met sy stem laat God magtige dinge gebeur.

Hy doen groot dade en ons begryp dit nie.

6Hy beveel die sneeu om op die aarde te val;

die reëns val, stortreëns wat getuig van sy krag.

7Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom

sodat alle mense sy werk kan leer ken.

8Die diere soek skuiling

en bly in hulle skuilplekke.

9Die stormwind kom uit sy blyplek,

die yswinde wat koue bring.

10As God die wind laat waai, ys dit

en vries die groot waters.

11Hy laat die wolke swaar word van vog,

Hy stuur sy weerligte in die wolke in.

12Hy laat die wolke in die rondte maal,

hulle doen wat Hy bepaal,

hulle gehoorsaam sy bevele die wêreld oor.

13God stuur die storm

óf om te straf

óf om vir die aarde te sorg

óf om sy liefde te toon.

14“Luister hierna, Job,

staan stil en dink na oor die wonderdade van God.

15Weet jy hoe Hy dit alles voorberei,

hoe Hy die lig deur die wolke laat breek?

16Weet jy hoe die wolke sweef?

Dit is die wonderlike werk van Hom

wie se kennis volmaak is.

17Jy wat jou nie eens met klere kan beskerm teen die hitte

wanneer die aarde gloei onder die woestynwind nie,

18kan jy saam met Hom die hemelruim oopspan,

stewig soos 'n spieël wat gegiet is?

19Sê jý dan vir ons wat ons vir God moet sê.

In ons onkunde kan óns Hom nie antwoord nie.

20Moet aan Hom vertel word wat ek sê?

Moet aan Hom meegedeel word wanneer 'n mens praat?

21“Niemand kon die lig sien nie,

die wolke het dit donker gemaak.

Maar die wind het gekom en hulle weggewaai.

22Uit die noorde kom die goudglans,

die majesteit van God is ontsagwekkend.

23Ons kan by die Almagtige nie kom nie, sy krag is groot.

Hy laat reg en geregtigheid geskied,

Hy verdruk niemand nie.

24Daarom dien die mense Hom,

en sien Hy nie dié raak wat dink dat hulle wysheid het nie.”

1Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;

soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.

2In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,

maar die Here toets die gesindheid.

3Die Here verkies dat 'n mens doen wat regverdig en reg is

eerder as dat jy offers bring.

4Die sonde van goddeloses begin altyd met selfverheffing en eiewaan.

5Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig,

maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.

6Skatte wat met bedrog versamel is,

verdwyn in die wind en bring die dood.

7Die geweld van goddelose mense vernietig hulleself,

want hulle weier om reg te doen.

8'n Slegte mens loop krom paaie;

'n eerbare mens tree eerlik op.

9Liewer bo-op 'n dak woon

as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.

10'n Slegte mens smag na meer kwaad;

hy het nie medelye met sy naaste nie.

11As jy 'n ligsinnige mens laat boet vir sy dade,

leer onervare mense wysheid daaruit;

as jy iemand onderrig wat wysheid het,

leer hy self daaruit.

12Die regverdige God sien wat in die goddelose se huis aangaan

en Hy bring die goddelose tot 'n val.

13As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens,

sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie.

14'n Geskenk in die stilte paai 'n man wat kwaad is;

as dit versigtig aangebied word, laat dit heftige woede bedaar.

15As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly,

en staan dié wat onreg doen, verskrik.

16As iemand ophou om verstandig te lewe,

beland hy tussen die dooies.

17Wie plesier voorop stel, word arm;

wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie.

18Jy ruil maklik 'n slegte mens uit vir een wat reg doen

en 'n onbetroubare vir 'n eerlike.

19Liewer in 'n woestyn woon

as by 'n twisgierige vrou wat aanhou neul.

20In die woning van 'n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie;

'n dwase mens bring sy goed deur.

21Wie na reg en liefde strewe,

aan hom word 'n vol lewe en eer geskenk.

22'n Wyse man kan selfs 'n stad vol dapper verdedigers oorwin

en die vesting waarop hulle vertrou, laat val.

23Wie sy mond en sy tong in toom hou,

hou hom uit gevaar.

24'n Ligsinnige mens is hovaardig en aanmatigend,

sy hovaardige optrede het geen perke nie.

25'n Lui mens soek sy dood,

want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie;

26hy sit die hele dag net en wens.

Die regverdige kan gee sonder om suinig te wees.

27Die Here het 'n afsku in die offers van goddeloses,

te meer as hulle dit bring met slegte bedoelings.

28'n Vals getuie gaan sy dood tegemoet.

'n Betroubare getuie se getuienis het betekenis.

29'n Slegte mens gee voor dat hy weet wat hy doen;

'n eerlike mens bly by die koers wat hy gekies het.

30Teenoor die Here geld geen menslike wysheid, insig of besluit nie.

31Perde kan afgerig word vir oorlog,

maar dit is die Here wat die oorwinning gee.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS