Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 166

Job 22–27

Bybelteks(te)

Elifas: Daar is geen einde aan al jou sondes nie

1Toe sê Elifas die Temaniet vir Job:

2“Kan 'n mens vir God tot nut wees?

Nee, die verstandige is vir homself tot nut.

3Watter belang het die Almagtige daarby dat jy reg het,

watter voordeel het dit vir Hom dat jou lewenswandel vroom is?

4Is dit oor jou diens aan Hom dat Hy jou straf,

dat Hy 'n saak teen jou het?

5Is jou verkeerde dade dan nie baie nie?

Daar is geen einde aan al jou sondes nie.

6Sonder regverdiging het jy van jou eie familie goed in pand gevat,

jy het die klere van dié wat niks het nie, van hulle afgestroop.

7Jy het vir dié wat uitgeput was, nie water gegee nie

en geweier om vir dié wat honger was, kos te gee.

8Jy, 'n ryk man, het grond in besit gekry,

jy, 'n man van aansien, woon daarop.

9Maar jy het weduwees met leë hande van jou af weggestuur

en weeskinders sonder heenkome gelaat.

10Daarom is daar net vangstrikke rondom jou

en het angs jou skielik oorval.

11Daarom is dit so donker dat jy nie kan sien nie

en verswelg vloedwaters jou.

12Is God dan nie hoog in die hemel nie?

Kyk net hoe hoog sit die sterre!

13Jy dink dalk: wat weet God?

Hy regeer uit die donkerte uit.

14Daar is wolke rondom Hom, Hy kan nie sien

terwyl Hy daar bo in die hemelgewelf wandel nie.

15Wil jy op die ou pad hou

wat deur sondige mense uitgetrap is?

16Hulle is weggeruk vóór hulle tyd:

die dinge waarop hulle gebou het, is deur 'n stroom meegesleur.

17Hulle het vir God gesê: ‘Laat staan ons.

Wat kan die Almagtige aan ons doen?’

18En dit terwyl dit Hý is wat hulle huise met rykdom vul!

Daarom bly ek weg van die raad wat van goddeloses af kom.

19Dié wat reg doen,

sien die ondergang van die goddeloses en is bly,

die onskuldiges spot met hulle:

20Ons vyande is daarmee heen,

vuur het hulle besittings verteer.”

Elifas: Onderwerp jou aan God

21“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef,

en so sal jy voorspoed hê.

22Laat Hy jou leer

en neem sy woorde ter harte.

23As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word.

As jy die kwaad ver van jou woonplek af hou,

24jou goud as nikswerd beskou,

die goud uit Ofir as so min werd as 'n klip in die spruit,

25sal die Almagtige jou goud wees,

jou skat aan silwer.

26Dan sal jy jou in die Almagtige verlustig

en jou weer tot God wend.

27Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou gebed verhoor,

die beloftes wat jy gemaak het, sal jy nakom.

28Wat jy besluit, sal uitgevoer word,

dit sal voorspoedig gaan met jou.

29Wanneer mense val

en jy vra dat hulle opgetel word,

sal God hulle, die ootmoediges, red.

30Hy sal die skuldiges laat vrykom,

en hulle sal vrykom deur jou onskuld.”

Job: Wat God wil, doen Hy

1Toe het Job weer gepraat:

2“Ek kla nog steeds uit opstandigheid,

ek kan nie ophou kla nie.

3As ek maar geweet het waar om God te vind,

sou ek na sy woonplek toe gaan

4en my saak voor Hom lê,

my pleidooie aan Hom stel.

5Ek sou van Hom antwoord probeer kry,

probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.

6Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie;

Hy sal my dit nie aandoen nie,

7want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit

en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word.

8Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie,

na die weste, ek kry Hom nie.

9Sou Hy in die noorde aan die werk wees,

ek vind Hom nie daar nie,

sou Hy na die suide toe draai,

ek sien Hom nie.

10Hy ken my pad;

as Hy my toets, is ek suiwer soos goud.

11Ek volg Hom waar Hy gaan,

ek hou op sy pad en draai nie af nie.

12Sy bevel verontagsaam ek nie,

ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes.

13Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan?

Wat Hy wil, doen Hy.

14Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen,

wat sy planne met my ook al is.

15Daarom staan ek vreesbevange voor Hom,

ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees.

16God het my weerstand afgebreek,

die Almagtige het my met angs vervul.

17Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie,

in hierdie duisternis wat my oorval het.”

Job: God slaan nie ag op die onreg nie

1“Waarom stel die Almagtige nie tye vas vir afrekening nie?

Waarom moet dié wat Hom ken, tevergeefs uitsien na sulke dae?

2Mense verskuif grenslyne,

hulle steel troppe vee en laat hulle by hulle eie vee wei,

3hulle vat die weeskind se donkie

en lê beslag op die bees van die weduwee,

4hulle druk die armes van die pad af;

die behoeftiges van die land moet wegkruip.

5Soos wildedonkies moet die armes in die woestyn gaan kos soek,

die dorre wêreld moet vir hulle kinders kos voorsien.

6Hulle oes veevoer op die land om dit self te eet,

hulle soek oorskiettrossies in die wingerde van die goddeloses.

7Hulle moet die nag kaal deurbring, sonder klere,

hulle het geen beskutting teen die koue nie.

8Hulle is deurnat van die reëns in die berge,

daar is geen skuiling nie, hulle hurk agter die rotse.

9Die weeskind word weggeruk van die bors waaraan hy drink,

die armes word vir skuld verpand.

10Hulle loop kaal rond, sonder klere,

hulle dra gerwe uit, maar ly honger,

11hulle trek die olyfpers,

hulle trap die parskuipe, maar bly dors.

12In die stad kerm die sterwendes,

dié wat aangerand is, roep om hulp,

maar God slaan nie ag op die onreg nie.”

Job: Hulle word soos koringare afgesny

13“Daar is mense wat nie die daglig verdra nie,

wat niks te doen wil hê met wat in die dag gebeur nie,

wat nie van die dag se paaie hou nie:

14die moordenaar staan op net voor ligdag,

hy vermoor die weerlose en die arme,

in die nag steel hy;

15die egbreker wag vir die donker,

hy dink geen oog sal hom sien nie,

hy vermom homself;

16die dief breek by huise in as dit donker is,

bedags kruip hy weg,

hy wil niks met die lig te doen hê nie.

17Vir elkeen van hulle is die donker soos die oggend,

hulle is tuis by die verskrikkings van die donker.

18“Maar hulle spoel vinnig weg op die water;

wat hulle besit, staan onder 'n vloek,

niemand werk meer in hulle wingerde nie.

19Soos droogte en hitte sneeu wegsmelt,

so maak die graf 'n einde aan die sondaar.

20Sy eie ma vergeet hom,

hy is kos vir die wurms,

daar word nie meer aan hom gedink nie.

Wie onreg doen, word soos 'n stuk hout gebreek.

21Hy het die kinderlose vrou geplunder

en nooit goed gedoen aan 'n weduwee nie.

22Maar God onderwerp die sterkes deur sy mag;

as Hy optree, het hulle geen sekerheid meer in die lewe nie.

23Hy gee miskien vir hulle 'n gevoel van sekerheid

waarop hulle kan steun,

maar Hy hou dop wat hulle doen.

24Net 'n kort tydjie is hulle belangrik,

dan is daar niks van hulle oor nie,

hulle stort inmekaar en sterf soos almal,

hulle word soos koringare afgesny.

25Is dit nie so nie?

Wie kan my tot leuenaar maak?

Wie kan my woorde weerlê?”

Bildad: Hoe kan 'n mens reg hê voor God?

1Toe sê Bildad die Suagiet vir Job:

2“Die heerskappy en die vrees kom God toe.

Uit sy hoë hemel gee Hy vrede.

3Kan die magte waaroor Hy beskik, bereken word?

Oor wie skyn sy lig nie?

4Hoe kan 'n mens reg hê voor God?

Hoe kan iemand wat uit 'n vrou gebore is, onskuldig wees?

5As vir God selfs die maan nie helder is nie

en die sterre nie blink genoeg nie,

6hoeveel te minder 'n mens, 'n blote wurm,

'n mensekind, wat maar net 'n ruspe is?”

Job: Het jy gehelp?

1Toe het Job weer gepraat:

2“Het jy nou dié een gehelp wat nie krag het nie?

Het jy nou dié een bygestaan wat nie sterk is nie?

3Het jy nou raad gegee

aan een wat nie wysheid het nie?

Het jy groot insig laat blyk?

4Met wie se hulp het jy gepraat?

By wie het jy gehoor wat jy gesê het?”

Job: Wie verstaan die dade van God?

5“Dié wat reeds dood is, bewe,

die doderyk en al sy bewoners.

6Die plek van die dood lê oop voor God,

niks bedek die doderyk vir Hom nie.

7God sprei die hemel uit oor die leë ruimte,

Hy laat die aarde hang waar niks is nie.

8Hy versamel die water in die wolke,

en hulle skeur nie onder die las nie.

9Hy bedek sy troon,

Hy sprei wolke daaroor uit.

10Hy plaas die horison op die see,

'n grens tussen lig en donker.

11Die pilare van die hemel skud,

hulle sidder vir sy dreigende woede.

12Deur sy krag bring Hy die see tot rus,

deur sy insig verpletter Hy vir Rahab!

13Met die wind waai Hy die lug skoon,

met sy krag deurboor Hy die seemonster.

14Dit is maar die begin van sy dade,

ons hoor net die gefluister van sy woorde.

Maar die volle krag van sy dade,

wie kan dit verstaan?”

Job: Watter hoop het die godlose?

1Job het voortgegaan en gesê:

2“So seker as God leef, Hy wat my reg van my af weggeneem het,

die Almagtige wat my die bitter lyding aangedoen het:

3so lank as daar lewe in my is,

so lank as die asem van God in my is,

4sal ek niks sê wat verkeerd is nie

en sal daar geen onwaarheid uit my mond kom nie.

5Daarom kan ek nooit toegee dat julle reg het nie:

tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is.

6Ek bly daarby dat ek reg het, ek sal daarvan nie afsien

en my my lewe lank daaroor verwyt nie.

7Mag dit met my vyande gaan soos met die goddeloses,

met my teëstanders soos met dié wat onreg doen.

8Watter hoop het die godlose as sy lewe afgesny word,

as God sy lewe opeis?

9Sal God sy hulpgeroep hoor

as rampe hom oorval?

10Vind hy vreugde in die Almagtige?

Roep hy God altyd weer aan?

11Ek wil julle iets leer

oor die mag van God;

wat by die Almagtige is,

sal ek nie verberg nie.

12Julle het dit tog almal al gesien,

waarom dan die sinlose gepraat?

13“Dit is die lot wat God uitmeet vir die goddeloses,

dit is wat die geweldenaars ontvang van die Almagtige.

14Hoe baie hulle kinders ook al is,

hulle is vir die swaard bestem,

hulle nakomelinge sal altyd honger ly.

15Dié wat van hulle oorbly, sal deur die pes verteer word,

en hulle weduwees sal nie oor hulle treur nie.

16Al hoop hulle hulle geld op soos stof,

en al is hulle klere so volop soos klei,

17wat hulle bymekaargemaak het,

sal deur die regverdiges gedra word,

en onskuldiges sal die goddeloses se geld onder mekaar verdeel.

18Die goddelose se huis is tydelik, soos 'n kokon vir 'n mot,

soos 'n skerm wat deur 'n wagter gebou is.

19Die goddelose gaan slaap as ryk man,

maar hy doen dit nie weer nie:

as hy sy oë oopmaak, is alles weg.

20Die angs oorval hom soos 'n vloed,

'n orkaan voer hom weg in die nag.

21Die oostewind lig hom op, en weg is hy,

dit waai hom weg uit sy plek.

22Dit storm op hom af sonder genade,

hy moet vlug vir die geweld van die wind.

23Die wind klap sy hande van blydskap

terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS