Dagboek 2021 – 26 Maart
Dankie vir die kruis!
Bybelteks(te)
MARKUS 15
Jesus word gekruisig
Jesus sterwe
Vrydag was die dag voor die Joodse paasfees. Markus beskryf die gebeure in drie fases. Jesus is die derde uur gekruisig, dit beteken negeuur die oggend. Waarskynlik die grootste gebeurtenis wat elke mens se lewe bewustelik of onbewustelik raak, word buitengewoon eenvoudig beskryf met Toe kruisig hulle Hom… (Mark 15: 24). Die aanklag teen Hom was boaan die kruis geskryf, naamlik dat Hy die koning van die Jode is. Dit is raar dat die Jode daarteen beswaar gemaak het, maar dat dit ’n nie-Jood was – Pilatus – wat die klag laat aanbring het. Toe dit die sesde uur word, om twaalfuur dus, het dit oor die hele aarde donker geword, en op die negende uur, drieuur die middag, het Jesus uitgeroep: Eloï, Eloï, lemá sabagtani? Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? Toe het Hy gesterf. Verder het die voorhangsel van die heiligdom in die tempel in twee geskeur, van bo na onder.
Jesus se uitroep is ’n aanhaling uit Psalm 22. In die verlede is dié woorde van Jesus gewoonlik verstaan as die verwoording van sy mensheid, sy benoudheid. Tog is ’n meer aanvaarbare verklaring dat Jesus uit die Psalm aanhaal om sy omstanders daarop te wys dat die toonaard van die Psalm verander. Dit eindig in ’n danklied as lofuiting omdat God op die noodroep van die Psalmdigter antwoord (Ps 22: 23-32). Daarmee het Jesus aan die omstanders en sodoende aan die hele wêreld getoon dat die kruis tekenend van die woede van die weerbarstige wêreld was, maar dat God se wil nie deur die woede van die wêreld aan bande gelê word nie.
Dit is merkwaardig dat nie ’n Jood, ’n skrifgeleerde of ’n Fariseër nie, maar ’n Romeinse offisier die waarheid, die hartslag van die evangelie, verkondig met sy opmerking: Waarlik, hierdie man was die Seun van God! (Mark 15: 39, NDV). Dit is die uitdaging: Jesus het die kruis in oorwinning omskep. Dit is vir elke gelowige sedertdien die waarborg en troos: Jesus het die laaste woord!
Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg