Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 25 Maart

’n Lofsang is gepas!

Bybelteks(te)

MARKUS 14

Die instelling van die nagmaal

22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

Petrus sal Jesus verloën

26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

MARKUS 14:22-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

MARKUS 14

Jesus in Getsemane

32Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

MARKUS 14:32-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Donderdag was ’n uiters slegte dag vir die Here Jesus. Hy het ’n laaste maaltyd saam met die dissipels geëet, wat gewoonlik as die instelling van die Nagmaal beskou word. Daarnaas word Hy deur Judas verraai, deur Petrus verloën, en eintlik deur die res van die dissipels in die steek gelaat. Behalwe dit, vind die gesprek in Getsemane plaas, wat sonder weerga in die Bybel is in vergelyking met ander benoudhede, byvoorbeeld toe Abram Isak moes gaan offer (vgl Gen 22: 5), of die klaagliedere in die Psalms. Jesus se smeking vind ook weerklank in die vroeë kerk deur die verwysing in die brief aan die Hebreërs, hoofstuk 5: 7-8. Vroeër in die Evangelie (Mark 10: 45) word gestel dat Jesus Homself gee as ’n losprys vir baie, in Getsemane maak Jesus as’t ware die eerste betaling van die offer, naamlik om die skuldige te wees vir die ongeregtigheid van die wêreld. Hier roep Jesus na sy Vader met die bede Abba, wat tekenend is van die besondere verhouding tussen Jesus en sy Vader. Dit verwoord Jesus se bewustheid dat Hy die Seun van God is, bereid om die bitter beker te ledig in volkome gehoorsaamheid aan sy wil. Getsemane is ’n intense wisselwerking tussen Jesus se innerlike smart en die wil van sy Vader.

Tog was daar ruimte om in die smart ’n lofsang te sing, ’n lofsang wat waarskynlik uit Psalms 115 tot 118 gekom het. Die maaltyd sluit nie net af met ’n lofsang in hoogs gespanne omstandighede nie, maar aan die maaltyd en die samesyn van Jesus en sy dissipels word ’n ongelooflike vooruitsig gebind, naamlik, tot daardie dag wanneer die maaltyd nuut gemaak in die koninkryk van God genuttig sal word.

Dié vooruitsig het anderkant smart, dood en kruis gelê, wat beteken Jesus se lyding was effektief, en die vooruitsig wat Jesus aan die einde van die maal gestel het, was ook die vooruitsig vir gelowiges. ’n Lofsang is gepas, want die redding en toekoms van gelowiges was nie deur ’n dissipel nie, maar deur Jesus, die Seun van God.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS