Dagboek 2021 – 27 Maart
Die einde?
Bybelteks(te)
MARKUS 15
Jesus word begrawe
JOHANNES 19
Jesus word begrawe
Pilatus was verbaas dat Jesus al dood was, en die Jode was dankbaar dat sy liggaam van die kruis afgehaal kon word voor die Joodse sabbat om sesuur die aand sou begin (vgl Joh 19: 31). Behalwe dit, was dit ook nie nodig dat sy bene gebreek moes word om die dood te verhaas nie, want Hy was reeds dood. Een van die soldate steek ’n spies in Jesus se sy om te sien of Hy dood is (vgl Joh 19: 34). Uiteindelik doen die paar vertrouelinge wat gewoonlik gedoen word. Josef van Arimatea en Nikodemus neem die inisiatief om Hom te begrawe, en hulle doen die nodige wanneer iemand gesterf het met geurige speserye en draai Jesus se liggaam toe in linnedoeke soos die gebruik was (vgl Joh 19: 38-42).
Dit is merkwaardig dat Markus swyg oor Saterdag, die dag wat tradisioneel die Joodse sabbat was. Die Apostoliese Geloofsbelydenis dê dat Jesus se begrafnis gevolg word deur sy neerdaling na die hel, terwyl die Niceense belydenis dit uitlaat. In die gesprek daaroor is gewoonlik verwys na 1 Petrus 3: 18-19 en 4: 6 wat verder hier met rus gelaat word. Die naaste wat die Evangelies daaraan kom, is Matteus wat getuig dat met Jesus se sterwe die voorhangsel geskeur het, die aarde geskud is en rotse gebreek is. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Hulle het uit die grafte gekom, die Heilige Stad ingegaan en aan baie verskyn.
Maar Markus doen dit op sy eie manier omdat hy reeds aan die begin van die Evangelie gesê het die tyd is vervul en die koninkryk van God is op hande en dat bekering nodig is (Mark 1: 15). Vir Markus is die koninkryk van God reeds hier, want Jesus is reeds hier. Uiteindelik is die oënskynlike stilte nie tekenend van God wat onaktief is nie, maar eerder van God wat handel, selfs al lyk dit na stilte. Die stilte is geen einde of mislukking nie, maar die handewerk van God wat sy loop neem, ongeag.
Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg