Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 24 Maart

Tussen salwing en verraad

Bybelteks(te)

MARKUS 14

Jesus se dood word beplan

1Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf

3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai

10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na 'n plan gesoek om Hom by 'n geskikte geleentheid te verraai.

MARKUS 14:1-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Twee dae voor die pasga, die fees van die ongesuurde brood, Woensdag dus. Die funksionarisse van die tempel is besig om ernstig te beplan vir hoe om van Jesus ontslae te raak. Uit vrees vir Jesus se aanhang, wou hulle dit nie tydens die fees doen nie.

In hierdie gedeelte is die kontras tussen verraad met die oog daarop om Jesus dood te maak, en salwing wat die beste is wat iemand aan Jesus kon doen, opvallend. Ironies dat die vrou wat Jesus met kosbare olie gesalf het, se naam nie eens onthou word nie, terwyl Judas se naam en sy verraad in die kerklike geheue ingeskryf staan. Jesus verkondig die koninkryk wat naby gekom het, terwyl die politieke mag van Rome dit moontlik gemaak het dat Jesus in die Joodse godsdienstigheid oorgelewer sou kon word. Die skare was as’t ware die wig en teenwig, want ’n oproerige skare was in die oë van die politieke mag onaanvaarbaar, maar nodig vir die planne van die Jode.

Dat Judas verraad kon pleeg is ongelooflik, maar die ander? Wanneer die onbekende vrou die regte ding doen en Jesus met egte nardusolie salf vir sy begrafnis, is die res van die dissipels bekommerd oor die armes. Volgens die Markus-evangelie se uitbeelding van die dissipels het hulle gefaal in hul opdrag, ongeag dit wat Jesus hulle geleer het. Die onbekende vrou verstaan Jesus beter as die dissipels. Sy is vir Markus die eerste gelowige en vir die kerk daarna tot vandag die eerste Christen. Die onbekende vrou is die ideale dissipel, terwyl Judas die swakste was, waarby die ander elf nie uitgesluit is nie. Hulle het nie verstaan nie, ongeag. Die gedeelte begin met Judas en eindig met Judas wat dit goed gedink het om na die leierpriesters te gaan om Jesus vir geld oor te lewer.

Jesus is op pad na sy dood; die onbekende vrou weet, maar die dissipels nie. Jesus se lyding was vir hulle, vir die twaalf, vir almal, vir ons ook, ook vir my!

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS