Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 23 Maart

Met watter gesag?

Bybelteks(te)

MARKUS 11

Die vraag oor Jesus se gesag

27Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe 28en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”

29Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 30Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.”

31Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32Maar moet ons sê: ‘Van mense af’? ...” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik 'n profeet was. 33Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.”

Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

MARKUS 11:27-33AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dinsdag was ’n besige dag wat oor drie hoofstukke van die Markus-evangelie strek (11: 27 – 13: 37). Ongeveer twee derdes van die gedeelte bestaan uit konflik met die tempelowerhede en hul verbintenisse. Hoofstuk 13 waarsku oor die vernietiging van die tempel en handel oor die koms van die Seun van die mens, alles gebeure wat in die toekoms sou plaasvind.

Vir ons wat twee duisend jaar later leef, is dit moeilik om die situasie in Jerusalem voluit te beleef. Die Jode en hul tradisie was so gevestig oor jare heen. Hulle het vir die toekoms geleef en het gewag vir die Messias wat sou kom om met groot vertoon en mag die vyande van Israel te oorweldig en die koninkryk van Dawid weer te vestig. Derhalwe is dit begryplik dat die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde ongemaklik is en wil weet hoe dit moontlik is dat Hy dit kan doen en met gesag kan optree en ’n eeue lange tradisie kan aantas. Jesus troef hulle deur te verwys na die doop van Johannes met die vraag: Was dit van die hemel of was dit van mense (vers 30)? Indien hulle sou antwoord dat dit van mense was, sou die skare oproerig raak, en as dit van God was, moes hulle geglo het, wat hulle nie gedoen het nie.

Die toekoms is klaarblyklik kommerwekkend, want Jesus verwys na die indrukwekkende klippe en geboue van die tempelterrein met die voorspelling dat niks behoue sal bly nie omdat alles afgebreek sal word. Die Markus-evangelie skets iets van die toekoms wat oënskynlik met groot spanning en disharmonie gepaard sal gaan. Maar, wie volhard tot die einde toe, sal verlos word.

Terug by Jesus en die tempel, sy tradisie en alles wat daarmee saamgehang het. Hulle het Jesus nie verstaan nie. Die tempel kon Jesus nie hou nie, Hy is groter as hulle en alles wat daarmee saamhang, want Hy is die Here wat deur lyding en kruisiging, en oënskynlik deur die dood, die ruimtes van die tempel sou oorskry, volledig en effektief. Die vraag bly ook hedendaags: Jesus, wie is Jesus vir jou?

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS