Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 22 Maart

’n Vyeboom met net blare aan

Bybelteks(te)

MARKUS 11

Jesus vervloek die vyeboom

12Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. 13Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. 14Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”

Sy dissipels het dit gehoor.

Die reiniging van die tempel

15Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. 16En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie.

17Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.”

18Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na 'n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.

19Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan.

Die vyeboom het verdroog

20Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is. 21Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

22Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê!

MARKUS 11:12-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gedeelte begin met verwysing na die vyeboom waaraan geen vrugte was nie aangesien dit nie vyetyd was nie, en sluit ook af met verwysing na die vyeboom wat die volgende oggend verdroog het van sy wortels af. Markus is geneig om soos hier ’n raam om sy gedagtegang te plaas, waar die gebeure met die vyeboom iets vertel van wat tussenin beskryf word, naamlik die gebeure in die tempel. Daarom is dit belangrik vir die leser om in gedagte te hou dat die vyeboom slegs soos ’n gelykenis hanteer word, want die behandeling van die vyeboom, hoe onbillik dit ook al mag klink, word ingespan om oor die tempel ’n mening uit te spreek.

Die slotsom is dus besonder reguit en op die man af. Jesus is eintlik nie besig om die tempel te reinig soos die opskrif van die gedeelte lui nie. Hy vee die totale tempelgebeure en alles wat daarmee saamhang met een veeg spreekwoordelik van die tafel af. Jesus verwys na die profeet Jeremia (7: 11) se uitspraak wat gewaarsku het dat dit die Here se tempel is en dat die tempel sodanig hanteer moet word. Die noem van die Naam van die Here waarborg en voorkom nie dat, soos Jeremia dit stel, die tempel verword tot ’n rowerspelonk nie. In die eerste twee dae van Jesus se laaste week tree Jesus radikaal op, maar elke keer in die lig van ’n profetiese verwysing uit die verlede. Daardeur word aangedui dat Jesus se optrede nie dié van ’n revolusionêr is nie, maar volgens die Skrifte, soos dikwels vermeld word.

So radikaal as wat die verdroging van die vyeboom was, net so radikaal is Jesus se oordeel oor die tempeldiens wat in dié tyd hoogty gevier het. Hy doen dit deur lyding, deur die dood, sy dood as antwoord van God op die geweld van die wêreld, tekenend van die ja vir God vir elkeen wat in Hom glo. Die verdroogde vyeboom sê dit: Glo in God, in Jesus Christus die herboude tempel na drie dae (vgl Joh 2: 19).

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS