Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 21 Maart

Lyding eindeloos?

Bybelteks(te)

MARKUS 16

Jesus het opgestaan

1Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

MARKUS 16:1-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is opvallend dat die Apostoliese Geloofsbelydenis oor Jesus se lewe eintlik bloedweinig sê. Daar staan net dat Jesus gely het onder Pontius Pilatus. Die verwagting sou wees dat iets meer oor Jesus se lewe, sy prediking, wonderwerke of iets dergeliks bygevoeg sou word. Jesus se lewe sedert die intog in Jerusalem kan as ’n laaste week ingeklee word volgens die aanduidings in die Markus-evangelie. Dat die gebeure chronologies op mekaar volg is waar, maar vir die kerk in die herdenking en belewenis daarvan eintlik van minder belang. Dit is nie moontlik om oor Kersfees te dink los van Paasfees nie, en derhalwe ook nie oor Paasfees los van Kersfees nie.

Miskien was die skrapse formulering in die belydenis nader aan die waarheid as wat vermoed word, aangesien Jesus se lewe op aarde as geheel lyding was. Hy is die Seun van God, maar in menslike gestalte. Sy Vader is God die Almagtige, Skepper van hemel en aarde uit niks, maar Hy het ook ’n aardse vader gehad. Hy is magtig om alle magte van die hele wêreld wat in opstand is teen God meteen te verdelg, maar Hy doen dit nie. Sy weg en sy manier is die lydensweg wat nie soldate werf nie, maar gelowiges wat deur bekering en geloof besef dat die koninkryk van die hemele naby gekom het, omdat Jesus naby is.

Daarom is dit belangrik om nie uit lyding tot die slotsom te kom dat dit tog maar vrugteloos was nie. Soos Kersfees en Paasfees in mekaar se verlenging te staan gekom het, so is dit ook met lyding en oorwinning. Die merkwaardige is dat die paar vroue die oggend na die Joodse sabbat, op Sondag dus, die eerste dag van die week, juis daar by die tradisionele tekens van die dood soos ’n graf, grafdoeke en waar sy liggaam gelê het, juis daar, die sin van sy lyding ontdek. Dis lewe, maar dis lyding, dit is God se manier, lewe deur lyding, kruis tot oorwinning. Vir die wêreld lyk dit onsinnig, vir gelowiges is dit die blye boodskap.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS