Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 20 Maart

Ons suster!

Bybelteks(te)

GENESIS 34

30Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.”

31Toe antwoord hulle: “Hy moes nie ons suster soos 'n hoer behandel het nie!”

GENESIS 34:30-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dina se verhaal roep die geloofsgemeenskap op tot verantwoording. Wanneer Jakob Simeon en Levi veroordeel vir die swak posisie waarin hulle hom geplaas het, basuin hul antwoord onteenseglik die waarde van hul suster uit. Hul suster is kosbaar, gewoon omdat sy hul suster is. Hul suster mag nie verneder word nie!

Susters in ons geloofsgemeenskappe word daagliks verneder, en die kerk keer so dikwels ’n blinde oog, of erger nog, verkondig aan so ’n suster dat sy hierdie vernedering op ’n manier verdien het, dat God dit van haar verwag, of dat dit edel is om hierdie verdrukking en lyding as Godvresende vrou te verduur. Vir daardie suster in die geloof het dit verreikende implikasies. In haar kop word God die Ongenaakbare wat nie net afwesig is en haar uitlewer nie, maar wat van haar verwag om haar fisiese en emosionele slae in edele onderdanigheid te absorbeer.

Die uitspraak van Dina se broers is uiters kragtig. Dit lewer felle kritiek op die hantering van hul suster. Hul suster is eenvoudig te kosbaar dat daar so ongeërg met haar gehandel word. Haar pyn maak saak, want sy is kosbaar. Dina se broers het haar stem aan haar teruggegee en haar ’n stukkie van haar menswaardigheid laat herwin. Hulle tree op, terwyl haar vader haar in die steek gelaat het omdat hy te gefikseer was op die voordele wat dit vir hom sou inhou om ’n ooreenkoms met Sigem te beklink.

Die geloofsgemeenskap behoort ook die stem te wees vir hulle wat onteer en tot swye gedwing is. Die Here God verwag van die geloofsgemeenskap om te reageer op die noodkreet van die stemloses. Die geloofsgemeenskap behoort die misbruik, mishandeling en onderdrukking van vroue te veroordeel. Hul belange moet te alle tye beskerm word. Om die eise van die evangelie in hierdie verband na te kom, vra geloofsgehoorsaamheid, leierskap, moed en absolute toewyding aan die Here Jesus Christus en sy evangelie.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS