Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 19 Maart

’n Oog vir ’n oog?

Bybelteks(te)

GENESIS 34

25Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak, 26ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan.

27Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is: 28kleinvee, beeste, donkies, alles in die stad en alles in die veld het hulle vir hulle gevat. 29Ja, hulle het alles geplunder wat daar in die stad was, hulle het alles wat in die huise was, buitgemaak; ook die kinders en vrouens is as gevangenes saamgevat.

GENESIS 34:25-29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie keer is dit die broers van Dina wat uitgaan. Dit is egter nie hulle wat verneder word nie, maar Sigem. Die manne word doodgemaak en die stad word geplunder. Die seuns van Israel verneder die magtige Sigem wat hul suster onteer het. Hierdie brutale optrede van die broers van Dina word weliswaar nie gemotiveer deur ’n begeerte na mag of gierigheid nie, maar deur die woede, frustrasie en magteloosheid as gevolg van die onreg wat hul suster aangedoen is. Die eer van die broers is geskend omdat hul suster onteer is.

Die vraag wat by ons as lesers van hierdie verhaal ontstaan, is of die broers van Dina as helde of dwase gereken behoort te word. In die apokriewe Testament van Levi oordeel die outeur dat die vernietiging van Sigem ’n sonde was in die oë van Jakob, wat sy seuns daarvoor vervloek. Maar Levi hou vol dat dit God self was wat sy straf oor Sigem laat geld het, aangesien hulle ’n immorele volk was. Hoewel die manne van Sigem deur Simeon en Levi om die lewe gebring is, was dit ’n regverdige handeling van God self.

Om kwaad met kwaad te vergeld, word herhaaldelik in die Nuwe Testament afgewys. Jesus maak dit in sy uitspraak in Matteus baie duidelik dat die een wat verontreg is eerder die ander wang moet draai. Wanneer Jesus later gevange geneem word en Petrus Malgus se oor afkap, word Petrus berispe, en Jesus genees vir Malgus.

Hoewel ons nie geweld kan vergoeilik nie, is die oordeel oor die broers van Dina nie so eenvoudig nie. Hulle streef geregtigheid na. Dina was die weerlose, onskuldige slagoffer wat haar nie kon verweer nie, en dit het haar broers se optrede gemotiveer. Om teen onreg weerstand te bied, verg dapperheid en moed van oortuiging. Dit vra beslis kritiese nadenke en besinning. As ’n gelowige iets onderneem, moet dit wees sodat God daardeur verheerlik word. Liefde vir God en liefde vir die naaste is die gelowige se hoogste maatstaf.

Dr Elritia le Roux, Middelburg

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS