Dagboek 2021 – 11 Julie
Ek glo in die Heilige Gees
Bybelteks(te)
1 JOHANNES 5
Liefde en geloof
Die getuienis oor Jesus Christus
Die doel van die brief
Ons bely elke Sondag in die erediens: Ek glo in die Heilige Gees. Die Heidelbergse Kategismus behandel hierdie geloofsartikel oor die Heilige Gees in Vraag 53:
Wat glo jy van die Heilige Gees?
Eerstens, dat Hy saam met die Vader en die Seun waaragtig en ewig God is. Tweedens, dat Hy ook aan my gegee is, sodat Hy my (a) deur ’n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (b) my troos en (c) ewig by my bly.
Om hierdie formulering te staaf, verwys die Kategismus onder andere na 1 Johannes 5, die gedeelte wat ons vandag gelees het. In die antwoord van die Kategismus leer ons eerstens dat die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun één God is. Dit is opvallend dat die Kategismus nie oor die Drie-eenheid filosofeer nie. Dit word op grond van die Bybel gestel dat God Homself as Vader, Seun en Heilige Gees aan ons openbaar.
Dikwels is die dinge wat ons nie sê nie, belangriker as dit wat ons wel sê. Wanneer ons oor die Persoon van God praat, is dit veral waar. Hoe minder ons sê, hoe beter. Juis omdat God so anders as ons is, so totaal anders as wat ons met ons menslike verstand en vermoëns kan uitredeneer, moet ons baie beskeie wees wanneer ons oor die Drie-enige God en die Heilige Gees praat. Moses het dit in die woestyn ontdek toe hy vra wie God is. Hy moes tevrede wees met ’n kort antwoord: Ek is.
Dit is opmerklik hoe beskeie en terughoudend die Heidelbergse Kategismus is wanneer daar oor die Heilige Gees gepraat word. Ons bely gewoon: Ek glo in die Heilige Gees. Dit is asof die Kategismus terugdeins voor die misterie van God en erken dat die menslike verstand en logika God nie kan verklaar nie. Dit maak geloof anders as kennis: Geloof is bereid om God te aanvaar vir wie Hy is, om God te vertrou vir wie Hy is.
Gesang 431: 1
Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria