Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 10 Julie

Jesus het ons geleer – onderhou dit alles

Bybelteks(te)

MATTEUS 28

Jesus se opdrag aan die dissipels

16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

MATTEUS 28:16-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Die kerk van die Here Jesus word deur die Gees toegerus om die dinge wat Hy aan ons toevertrou het, te bewaar en te onderhou. Die kerk en elke gelowige se krag lê in die getuienis dat Jesus die Verlosser en die opgestane Here is. Hierdie getuienis is veel meer as die nasê van ’n verhaal en gebeure wat baie lank gelede in die groter omgewing van Israel afgespeel het. Jesus het self gesê dat Hy altyd by ons is. Sy ewige teenwoordigheid word deur sy Gees in ons bevestig: Ons is nooit alleen nie.

Ons word opgeroep om die evangelie in die wêreld van vandag te verkondig en te leef, sodat almal dit kan hoor en sien en tot geloof kan kom. Die gewoontes, gebruike en karaktertrekke van die gelowiges is deur die leer en lewe van Jesus gevorm. Die wyse waarop gelowiges mekaar versorg, ondersteun en bemoedig, getuig van die lewensveranderende krag van die Heilige Gees. Die Gees bly ons verander om in die voetspore van Jesus te volg.

Die lewe en werk van ’n gelowige op die patroon en na die voorbeeld van Jesus se lewe is nie ons werk nie! Nog minder ons prestasie. Die handhawing van Bybelse waardes en die leef van Christelike beginsels kom alleen deur die krag van die Gees. Paulus bevestig in Romeine 15: 18-19: Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God.

Ons het elkeen ’n besondere roeping van God ontvang. Die plek waar ek leef en werk en my gesin is die onmiddellike omgewing waarin ek moet getuig dat Jesus my Here is. Mag elke woord en handeling hiervan getuie wees.

Dr Frikkie Labuschagne, Sinodaal

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS