Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 12 Julie

Die Gees leer ons wie is God

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 4

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.

1 JOHANNES 4:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die dinge wat ons as mense elke dag doen, bewustelik of onbewustelik, is dat ons aan ander mense dink. Ons kan op verskillende maniere en met verskillende emosies aan mense dink. Ons kan met respek, met vrees, met angstigheid, met bewondering, met woede, met teleurstelling, met minagting, met haat of met liefde aan mense dink. Die manier hoe ons aan mense dink, word grootliks bepaal deur mense se optrede teenoor mekaar.

Ons kan ook op verskillende maniere aan God dink. Dit is ook nie verkeerd nie, want die Bybel praat op verskillende maniere oor God. ’n Mens kan ook op die verkeerde manier aan God dink. Daarom skryf Johannes die brief aan die gelowiges in Klein-Asië om hulle te help om op die regte manier aan God te dink. Johannes maak in verse 8 en 12 twee belangrike stellings wat ons moet raaklees. Johannes skryf in vers 8 God is Liefde, en in vers 12 niemand het God gesien nie. Omdat ons God nie kan sien nie, kan ons nie vanuit ons menslike ervaring oor God praat nie. God is nie soos ’n boom wat ons wetenskaplik kan bestudeer nie. Ons kan nie op grond van ons menslike verstand of wetenskaplike kennis verklaar wie God is nie. As ons die twee stellings langs mekaar plaas, klink dit of Johannes homself weerspreek. Aan die een kant sê hy niemand het God gesien nie en daarom kan ons God eintlik nie ken nie, en aan die ander kant sê hy God is liefde. Hoe kan hy dit weet? Johannes antwoord soos volg (1 Joh 4:13): Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee…

Dit is dus nie deur ons eie vermoëns dat ons weet dat God Liefde is nie. Ons weet dit omdat God sy Gees na ons stuur. Dit is wat die Heilige Gees in ons doen: Hy leer ons dat God Liefde is, dat Jesus Christus die Verlosser van die mensdom is.

Prof Wim Dreyer, Universiteit van Pretoria

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS