Bible Society of South Africa

Waskomme

In die tempel van Salomo was daar tien brons waskomme op wiele. Vyf waskomme is aan die suidekant van die tempel en vyf aan die noordekant geplaas. Hulle is deur Hiram, die vakman in bronswerk, gemaak.

Doel van die waskomme

Volgens 2 Kronieke 4:6 was die waskomme daar om voorwerpe af te spoel wat vir die brandoffers benodig is.

Vorm

Elke waskom het uit ʼn waentjie met ʼn wasbak bestaan. Die beskrywing van die waskomme word in 1 Konings 7:27-39 aangetref.


Die waentjie was ongeveer 1,8 meter lank, ongeveer 1,8 meter breed en ongeveer 1,3 meter hoog. Die waskom was ook ongeveer 1,8 meter breed en kon ongeveer 1 514 liter water hou.



Die waentjie was heeltemal van brons en het bestaan uit stawe met bronspanele tussenin. Die panele was versier met leeus, osse, gerubs en blommekranse.

Vernietiging van die waskomme

Koning Agas van Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van God. Hy het die waskomme uit die waentjies laat verwyder en die bronswaentjies uitmekaar gehaal (2 Konings 16:17).



Volgens 2 Konings 25:13 en Jeremia 52:17 het koning Nebukadnesar die tempel in Jerusalem in 586 v.C. vernietig. Hy het uiteindelik die bronsvoorwerpe soos die waskomme heeltemal vernietig en die brons na Babilonië teruggeneem. Dit was aan die begin van die Babiloniese ballingskap.

Waskomme in die tabernakel

In die beskrywing van die tabernakel was daar ook ʼn bronswaskom (Eksodus 30:17-21). Die grootte van hierdie waskom, of hoe dit gemaak is, is onbekend. Aäron en sy seuns moes die water uit hierdie waskom gebruik om hulle hande en voete te was voordat hulle in die tent kon ingaan of ʼn offer kon bring.


 

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS