Bible Society of South Africa

Tempel van Salomo

Die tempel in Jerusalem het ʼn belangrike rol in die aanbidding van die God van Israel gespeel. Daar word vermoed dat die eerste tempel in Jerusalem vir Salomo rondom die tiende eeu v.C. gebou is. 1 Konings 6 – 7 bevat ʼn uitvoerige beskrywing van die tempel van Salomo. Hierdie beskrywing kom weer in ʼn gewysigde weergawe in 2 Kronieke 3 – 4 voor. Die eerste tempel is in 586 v.C. gedurende die verowering van Jerusalem deur die Babiloniërs verwoes.

Argeologiese bronne

Die Bybel beskryf hoe die tempel in Jerusalem gelyk het, maar daar bestaan geen buite-bybelse bronne oor hierdie onderwerp nie. Die oorblyfsels van ʼn aantal tempels wat min of meer in dieselfde tydperk gebou is, is egter in Sirië ontdek. Die belangrikste hiervan is in Ajin Dara in die noorde van Sirië ontdek, asook in Tel Ta’janat in die suidooste van hedendaagse Turkye. Hierdie tempels toon baie ooreenkomste met die beskrywings van die tempel in Jerusalem.



Dit is waarskynlik dat die ontwerp van die tempel van Salomo in ooreenstemming was met die Kanaänitiese en Siriese tradisie van tempelbou omstreeks 1000 v.C., wat ook goed pas by die verhaal in 1 Konings 5:1-18 waarin Salomo die Fenesiese koning, Hiram van Tirus, om hulp vra met die voltooiing van die tempel. 

Ooreenkomste met ander tempels 

Ooreenkomste tussen die beskrywings van die tempel van Salomo en die tempels wat in Ajin Dara en Tel Ta’janat opgegrawe is, sluit die volgende in:

  • Die tempel is onderverdeel in drie areas wat op mekaar gevolg het: ʼn binnehof, ʼn groot kamer en ʼn agterste kamer. 
  • Die agterste kamer was die belangrikste: dit was waar die godheid gewoon het. In Ajin Dara was hierdie area verhoog, wat moontlik ook die geval was in die tempel in Jerusalem. Dit sou verklaar waarom die agterste kamer laer was as die groot kamer. 
  • Aan weerskante van die ingang na die tempel was daar twee pilare. Die pilare by die tempel van Salomo is Jakin en Boas genoem.
  • Die tempels was versier met skilderye en beelde van gerubs en plante.
  • Daar was ʼn wierookaltaar by die ingang van die tempel.
  • Daar was kultiese waskomme in of naby die tempel.
  • In Ajin Dara was daar sykamers aan drie kante van die tempels, net soos in die beskrywing van die tempel van Salomo.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS