Bible Society of South Africa

Klippilare

In ou Israel was ʼn klippilaar ʼn klip wat mense gewoonlik met ʼn godsdienstige doel op ʼn belangrike plek opgerig het.


Die klippilaar is in ʼn regop posisie geplaas, soos ʼn paal of ʼn pilaar. Die term is ʼn vertaling van die Hebreeus

matseva

. Dit is ook waar die woord “masseba” vandaan kom, wat ʼn ander manier is om na die klippilaar te verwys.

Verskillende funksies

Die gebruik van klippilare word soms in die Bybel verwerp, en soms toegelaat. Dit was waarskynlik grotendeels afhanklik van die presiese doel waarvoor die klip gebruik is:

  • vir die aanbidding van afgode;
  • vir die aanbidding van God;
  • as die teken van ʼn ooreenkoms;
  • as ʼn gedenkteken.

ʼn Verbode godsdienstige voorwerp

Die meeste van die boeke in die Bybel, veral die boek Konings en die wetboeke, noem die klippilaar in verband met die aanbidding van afgode. Daar word ook dikwels in dieselfde teks melding gemaak van ʼn asjerah, ʼn altaar en/of ʼn standbeeld van ʼn god. Volgens die Bybel het verskeie konings klippilare in die land opgerig. Daar word vertel dat koning Hiskia (2 Konings 18:4) en koning Josia (2 Konings 23:14) die klippilare uit die land verwyder het.


In al hierdie tekste word die oprigting van die klippilare ten sterkste veroordeel. Volgens die bybelse outeurs was hierdie godsdienstige gebruik een van die redes waarom die volk Israel in ballingskap weggevoer is (2 Konings 17:10).

ʼn Toegelate godsdienstige voorwerp

In Genesis 28:18 lees ons dat Jakob ʼn heilige klip in Bet-El opgerig het as ʼn teken dat God daar aan hom verskyn het. Die Bybelgedeelte sê niks negatief hieroor nie.

Die teken van ʼn ooreenkoms

In Genesis 31:45 rig Jakob ʼn klip op as ʼn teken van die ooreenkoms tussen hom en Laban.


In Eksodus 24:4 word die stamme van Israel deur 12 klippe gesimboliseer. Dit word deur Moses opgerig as deel van die verbondsooreenkoms tussen God en die volk.

ʼn Gedenkteken

Ten slotte het die klippilaar in verskeie Bybelgedeeltes die funksie van ʼn monument of gedenkteken. Daarom plaas Jakob ʼn klip op sy vrou Ragel se graf (Genesis 35:20), en rig Absolom ʼn gedenkteken op in die koningslaagte omdat hy nie ʼn seun het om sy naam in gedagtenis te hou nie (2 Samuel 18:18).

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS