Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 5

Hulle het gegee wat hulle kon – deel II

Bybelteks(te)

LUKAS 6

38Gee, en vir julle sal gegee word:

'n goeie maat,

ingestamp, geskud en propvol,

sal hulle in julle hande gee.

Met die maat waarmee julle meet,

sal ook vir julle gemeet word.”

MARKUS 12

Die arm weduwee se gawe

41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

MARKUS 12:41-44AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 6

Die vermeerdering van die brood

1Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.

4Die paasfees van die Jode was naby.

5Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

8'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”

Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

JOHANNES 6:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KORINTIËRS 8

Die Christelike vrygewigheid

1Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. 2Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. 3Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. 4Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea.

2 KORINTIËRS 8:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het ek geskryf oor die arm weduwee wat twee muntstukkies in die kissie gegooi het (Markus 12:41-44) en die seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies gegee het (Johannes 6:1-14). Beide het met groot opoffering gegee wat hulle kon.

Om te gee was nog altyd deel van Christenwees. In 2 Korintiërs 8:1-4 lees ons van die gemeentes in Masedonië. Hulle het ook in swaar ekonomiese tye geleef, maar hulle blydskap was so groot dat hulle oorvloedig was in hulle vrygewigheid. Hulle was arm maar hulle het soveel gegee as wat hulle kon.

Die storie gaan aan. In die destydse biblioteek van die Bybelhuis in Kaapstad was daar ʼn ietwat verweerde mielie. ʼn Zulu-seuntjie van ʼn plattelandse skooltjie in KwaZulu-Natal was so diep geraak toe sy onderwyseres op ʼn dag vir hulle die verhaal van Mary Jones vertel. Mary se begeerte na ʼn Bybel het aanleiding gegee tot die stigting van die Bybelgenootskap-beweging sodat Bybels vir almal beskikbaar gestel kan word.

Die seuntjie se ma het op dié dag vir hom middagete ingepak – een mielie. Hy het sy onderwyseres gevra om die mielie aan die Bybelgenootskap te stuur sodat hulle vir iemand ʼn Bybel kon gee.

Mettertyd is ʼn netjies toegedraaide pakkie, met die mielie binne-in, by die Bybelhuis afgelewer. Hy het gegee wat hy kon.

Die storie het nie daar geëindig nie. ʼn Personeellid van die Bybelgenootskap het die storie van die seuntjie en die mielie by ʼn internasionale vergadering met ander kollegas van die Bybelgenootskap gedeel. Hulle was diep geraak deur die vrygewigheid van die seuntjie wat bereid was om honger te ly sodat iemand anders ʼn Bybel kon kry. Hierdie storie is deur ʼn aantal Bybelgenootskappe in ander lande gebruik om mense aan te moedig om te gee wat hulle kan sodat iemand anders ʼn Bybel kan ontvang.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS