Bible Society of South Africa
Neville Turley

Volhard in Jesus Christus – Dag 4

Hulle het gegee wat hulle kon – deel I

Bybelteks(te)

MARKUS 12

Die arm weduwee se gawe

41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

MARKUS 12:41-44AFR83Maak oop in die Bybelleser

LUKAS 21

Die klein gawe van die arm weduwee

1Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”

LUKAS 21:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 16

16“Drie keer elke jaar moet al jou mans in die plek wat die Here jou God sal kies, in sy teenwoordigheid verskyn: op die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie. 17Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”

DEUTERONOMIUM 16:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 6

Die vermeerdering van die brood

1Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.

4Die paasfees van die Jode was naby.

5Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

8'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”

Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

JOHANNES 6:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Merkwaardige verhaal word in die Evangelies vertel van ʼn weduwee wat alles gegee het wat sy gehad het. Jy kan dit in Markus 12:41-44 en in Lukas 21:1-4 lees.

Jesus was by die offergawekis in die tempel en Hy het gesien hoe ryk mense hulle geld daarin plaas. Toe kom daar ʼn arm weduwee wat twee muntskukkies ingooi.

Jesus was diep geraak deur haar daad. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Markus 12:43-44).

Om arm te wees is geen verskoning om nie te gee nie. In Deuteronomium 16:16-17 word alle mans beveel om drie keer ʼn jaar by ʼn plek saam te kom om God te aanbid: “Elkeen moet ʼn geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”

In hierdie moeilike tye kan baie van ons eerlik sê dat ons swaarkry en nie baie kan gee nie. Dit is egter geen verskoning om niks te doen nie. Die wonderwerk toe Jesus vyfduisend mense gevoed het (Johannes 6:1-14) is moontlik gemaak deur ʼn seuntjie in die skare wat alles gegee het wat hy gehad het – vyf garsbrode en twee vissies. Hy het alles gegee wat hy gehad het en niemand kan meer as dit doen nie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS