Bible Society of South Africa

Wegkruip in die tuin - 24 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

Ons gesin se Labrador het in die tuin gespeel toe hy per ongeluk die wasgoedrak omstamp, en al die skoon wasgoed op die grond laat beland. Toe die skuldige na die toneel ontbied word, (modderpote was duidelik sigbaar op die lakens), het hy vinnig die pad gevat in die teenoorgestelde rigting.

Die gedrag van ons geliefde hond het my laat dink aan die gedrag van die enigste volmaakte paartjie wat nog ooit op hierdie aarde was. Hulle het ook in ‘n tuin gebly. Hulle tuin was een van ongelooflike prag en vol van wonderlike diere en plante. Op ‘n dag het hulle egter ‘n oordeelsfout begaan. Ons lees in die Bybel: “Die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. Hy het vir die vrou gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het julle mag nie van enige boom in die tuin eet nie?” Die vrou het die slang geantwoord: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar oor die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê, ‘Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanraak nie, anders sterf julle.’ ” Die slang sê toe vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.” (Genesis 3:1-5)

Instede van om te luister na die Een wat hulle gemaak en aan hulle lewe gegee het, het hulle na iemand anders geluister – iemand wat op ‘n listige manier bedoel het om hulle kwaad aan te doen.

Die slang was reg. Hulle het onmiddellik kennis oor hulle nuwe, sondige lewe, bekom. En vir die eerste keer ooit het hulle vir God weggekruip: beskuldigings het heen en weer gevlieg en wie die blaam moes kry was deel van die gesprek. Ongelukkig was daar onmiddellik ernstige gevolge. God het gesê dat dit wat hulle gedoen het verskriklik was en hulle is uit die tuin verban. Dit is hoe ernstig sonde is en dit is hoe ernstig God dit beskou.

Neem jy God en sy Woord ernstig op? Is die Bybel daar vir elke gril en gier of interpretasie of is jy ‘n ywerige student van die Woord van God? Ek is baie bewus daarvan dat die duiwel die Bybel ernstig opneem en goed genoeg ken sodat hy dit kan verdraai. Hy het nog nie met sy skelmstreke opgehou nie, inteendeel, hy is listiger as ooit en hy probeer vandag selfs harder om ons te kry om ongehoorsaam aan God te wees.

Die enigste manier wat ons ons lewens kan beveilig, is om volgens die woord van God te leef. “Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie. In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie.” (Psalm 119:10-11)

Deur ons beste te doen om volgens die woord van God te leef, help ons om nie soos Adam en Eva onwetend teen God te sondig nie. Genadiglik het ‘n tweede Adam na hierdie wêreld gekom, sonder sonde geleef en vir ons gesterf sodat ons weer ‘n kans kan kry om vir ewig by God te wees.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U na die wêreld gekom het om dit vir ons sondaars moontlik te maak om vir ewig by U te wees. Dankie dat U die lyding aan die hand van sondige mense vir ons deurstaan het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS