Bible Society of South Africa

Nie 'n "koekiedrukker"-geloof nie - 25 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon.

HANDELINGE 17:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nie twee mense beskik oor presies ewe veel geloof nie. ‘n Ou vriend en ek het onlangs gesels oor hoe God se roeping in die lewe van elke gelowige uniek is. En volgens ons teks hierbo plaas God ons presies waar Hy ons wil hê.

En tog, wanneer ons byeenkom, is Christene dikwels geneig om vergelykings te tref en dit kan soms voel of ‘n mens ‘n soort van ‘n “koekiedrukker”-geloof moet hê: ‘n “one size fits all” benadering tot die lewe. Die God van die heelal het egter elkeen van ons met unieke talente, vermoëns, kenmerke, gawes en vingerafdrukke gemaak.

Elke gelowige se lewe word deur God gevorm. Ons kan onsself so baie pyn en hartseer spaar deur dit te besef – almal in ons ouderdomsgroep gaan nie noodwendig op dieselfde tyd trou en met ‘n gesin begin nie, en almal se loopbane ontwikkel nie teen dieselfde pas nie.

Dit is so maklik om die slagoffer van kompetisie te word. Ons as skape in God se weiveld begin dan vra hoekom sommige ander skape se gras groener is – hoekom werk dinge vir ons nie uit soos vir hulle nie?

Jesus het sy wonderwerke volgens mense se mate van geloof gedoen. Baie vroue het na Jesus toe gekom. Ek dink aan die vrou wat vir 12 jaar aan bloedvloeiing gely het, die een wat skuldig was aan egbreuk, die vrou wat sy voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog het en wat van die vrou by die put? Elke interaksie was uniek.

Op dieselfde manier het God ‘n unieke plan met elkeen van ons se lewe. God bestaan ook buite ons begrip van tyd. Hoe dikwels het ons as mense nie al kopgekrap oor God se tydsberekening nie. Dink aan Lasarus: Jesus het eers vier dae na Lasarus se dood opgedaag en hom toe tog uit die dood opgewek.

Die Ou Testament werp meer lig op God se modus operandi om sy doel te bereik. Die Sunemitiese vrou in 2 Konings 4:8-37 se behoefte aan ‘n kind is op ‘n buitengewone manier vervul, net om hom aan die dood af te staan en hom deur ‘n wonderlike ingryping weer terug te kry.

Naäman se genesing van melaatsheid waarvan ons in 2 Konings 5:1-14 lees, was miskien ‘n bietjie minder dramaties. Hy moes hom net sewe keer in die Jordaan gaan was. Vir Naäman was dit ‘n vreemde voorstel.

Hoe vorder die plan met jou lewe? Is jy in goeie geselskap?

Gebed: Hemelse Vader, ons is so bevoorreg dat ons God ‘n unieke plan met elkeen van ons se lewe het. Ons aanbid ‘n groot, ewige God en dankie dat U al ons verskille in u volmaakte plan akkommodeer. Ons prys u Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS