Bible Society of South Africa

Eenvoudig genoeg - 23 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

Iets het verkeerd geloop.

‘n Ruk gelede was ek al weer laat om gereed te maak om werk toe te gaan, iets wat ongelukkig besig was om die norm te word. Terwyl ek aan die skarrel was om reg te maak om te ry, het ‘n man met ‘n skurwe voorkoms voor my hek verskyn en vir iets om te eet gevra.

Ek was heel uit die veld geslaan dat hy, nadat ek verduidelik het dat ek laat was en nie toe kon help nie, eenvoudig nie wou verstaan dat ek haastig was nie. Toe het dit my getref – hierdie man het geen idee waaroor ek so aangaan nie. Hy het geen konsep van werk nie en definitief het hy nie my begeerte om betyds by die werk te wees, verstaan nie.

Dit het my aan God laat dink. Hy het nog altyd geweet dat die mensdom, soos dom skape, geen benul van die meeste dinge het nie, en dat hulle ‘n God wat in hulle wêreld gewoon het, nodig het.

Die Meester, soos Jesus soms genoem is, was ‘n bobaas storieverteller. Hy het gelykenisse, ‘n anologie, allegorie of beeldspraak gebruik om ingewikkelde konsepte aan mense te verduidelik op ‘n manier wat hulle kon verstaan. Hy het na die aarde gekom in ‘n tyd wat landbou en die gesinslewe belangrik was en Hy het dit op ‘n wonderlike manier gebruik om sy standpunte te illustreer.

Vir my is dit die absolute wonder van die Woord van God – eenvoudig genoeg dat enigeen wat dit hoor kan glo, maar tog so kompleks dat akademici vandag steeds kosbare wyshede daarin ontdek.

God het die ingewikkelde werkinge van die heelal tot in die fynste detail gemaak. Hy het ‘n volmaakte begrip van elke teorie, aksioom, hipotesis, ens wat die briljantste menslike brein nog ooit uitgedink het. Hy is ten diepste vertroud met die kookpunt van metaal of hoe om die duursaamste van alle materiaal te skep.

Tog, ten spyte van die groot kompleksiteit, is die leringe van die Bybel ook eenvoudig genoeg vir ons om te verstaan. Niks is te kompleks, of bo die reddende genade van ons God nie. Niks verhinder ons om die verandering wat die Woord bring te ervaar of die verkwikking van bekering waarna ons siele smag nie.

Gebed: Dankie Here dat u Bybel in ons behoeftes voorsien en dat dit nie saak maak hoe ver geleerd ons is nie. Dankie dat U gelykenisse en beeldspraak gebruik het wat komplekse konsepte vir ons eenvoudig stel sodat ons dit kan verstaan. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS