Bible Society of South Africa

Rentmeesterskap in my lewe – koop en saai - 14 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

6'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak,

'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi,

PREDIKER 3:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons word gebore sonder ‘n enkele ding wat ons saambring in hierdie wêreld. Eendag, wanneer ons met hierdie lewe klaarmaak, neem ons niks saam met ons na ons ewige bestemming toe nie. Daarom is alles wat ons in ons lewens bymekaarmaak, tydelik van aard.

Dit bring ons natuurlik by van die lewe se groot vrae. Wat het ons nodig om van te lewe? Wanneer het ons genoeg? Wat wil ons regtig graag hê? En hoe kan ek ‘n goeie rentmeester wees van dit wat die Here aan my toevertrou in my lewe?

Ek lewe in ‘n verhouding met die dinge wat ek besit. Sommige dinge het ek nodig om van te lewe. En sommige dinge maak my lewe makliker, of sommer net lekker. Daar is ook ‘n gevaar, ek kan verstrengel raak in alles wat ek besit, of nog graag wil aanskaf. Malcolm Forbes het die gees van ons tyd mooi vasgevang met die spreuk: “He who dies with the most toys, wins …” Geldgierigheid word op ‘n paar plekke in Spreuke uitgewys as ‘n baie gevaarlike strik vir ons.

Daarom het ons nodig om ‘n gesonde benadering te ontwikkel oor die dinge wat ek wil aanskaf in my lewe. Wat het ek regtig nodig om sinvol te lewe? Wat is die beste gehalte van daardie produk, teen die beste prys? Kan ek dit kontant koop? Het ek dit regtig nodig?

Ons moet ook leer om besittings maklik te laat gaan. Ons gaan niks saamneem wanneer die Here ons kom haal nie. Dit is so ‘n groot bevryding om van oortollige bagasie, insluitende besittings, ontslae te raak. Wat het ek nie meer nodig in my huis nie? Waarmee kan ek iemand anders seën? Wat gaan meer beteken vir my naaste as vir my op hierdie oomblik? Die meeste van ons dra onnodige bagasie saam in die lewe. Dalk is dit nou die tyd om hard en eerlik te kyk na wat alles rondom my opstapel, en te begin om dit te laat wegraak na beter adresse.

Ons sal die waarheid beleef van daardie spreuk dat dit beter is om te gee as om te ontvang. (Handelinge 20:35) Waarmee kan jy iemand vandag seën uit jou oorvloed?

Gebed: Here, dankie dat U vir my sorg. U weet wat ek nodig het nog voordat ek vra. Leer my om U te vertrou vir die wysheid van dit wat ek nodig het om van te lewe. Dankie dat U my soms seën met iets kosbaar, wat my lewe lekker maak. Maar help my om nooit geldgierig te raak, en met toe hande deur die lewe te gaan nie. Maak my ‘n kanaal van u seën ook na die mense rondom my. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS