Bible Society of South Africa

Beplanning en bestuur - 15 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

6'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak,

'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi,

PREDIKER 3:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het gister gesien dat ons geroep word om goeie rentmeesters te wees van dit wat die Here ons mee seën. Ons leer in die Bybel om in geloof te lewe, en die Here vir vandag se behoeftes te vertrou, soos Jesus ons leer bid het in Matteus 6:11. Ons moenie oor die toekoms bekommerd wees nie, maar die Here vertrou, so leer Matteus 7:31 ons.

Terselfdertyd leer die Bybel ons om met wysheid op te tree, en nie alles wat ons het, dadelik te spandeer nie. Die verhaal van Josef in Egipte wys dat dit goed is om vir die toekoms te beplan. Daar kom soms maer jare, ek glo ons is nou in een! Dit is goed om vir sulke tye reserwes op te bou. Ons word ouer, en dit is goed om van jongs af te leer spaar vir jou aftrede. Onwyse mense spaar nie. Spreuke 20:4 sê “ ‘n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie.” Ons moet beplan, werk en glo vir ons toekoms. Ons het baie wysheid nodig hoe ons moet spaar. Daar is so baie lokvalle, en vreemde stemme wat ons en ons geld van mekaar wil skei. Prediker 11:2 sê diversifiseer as jy spaar, moenie al jou eiers in een mandjie hou nie. Eintlik sê dit “Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie.”

In die loop van ons lewe maak ons dinge bymekaar om van te lewe, dinge om mee te werk en ander om mee te speel. Daar is egter min dinge so hartseer soos om op televisie programme te sien van ‘n opgaarder se huis. Daar is mense wat letterlik niks kan weggooi nie. Hoe meer goed daar in ons lewe opgaar, hoe meer verstrengel raak ons daarin. Raak ontslae van die gemors in jou lewe! Gooi die ou, uitgediende voorwerpe in jou besit weg. Raak ook ontslae van ou, uitgediende maniere van dink. Gooi weg die woorde wat jou aftrek, of jou naaste seermaak. Gooi weg die versoekings wat so graag in jou kop wil kom nesmaak. Gooi die mislukkings van jou verlede weg, Jesus het mos klaar daarvoor betaal aan die kruis!

Gebed: Here, dankie dat U die Voorsiener in my lewe is. Dankie dat ek elke dag uit u hand van genade lewe. Daarom wil ek U vandag vir wysheid vra. Wys my asseblief wanneer dit tyd is om te spaar. Leer my om reg te spaar, en nie toe te laat dat vrees vir die toekoms my beetpak nie. Here, leer my ook wanneer om weg te gooi. Help my om nie ‘n klomp onnodige gemors op my lewenspad saam te dra nie. Maak my vry van dit wat my verstrengel. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS