Bible Society of South Africa

Die mense na aan my, of nie? - 13 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

5'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak,

'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af,

PREDIKER 3:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om te omhels, was nog altyd ‘n teken van intimiteit. Dit word gereserveer vir die mense wat jy na aan jou hart toelaat. Omhelsing is vir baie nabye vriende, vir jou familie, en uiteindelik die mees intieme omhelsing vir jou lewensmaat, beskore.

In ons lewens ontmoet ons baie mense. Ons het nie die kapasiteit om almal se vriende te wees nie. Jou gesin van oorsprong – jou ouers, broers en susters kon jy nie kies nie. DIt sal wonderlik wees as jy sulke goeie verhoudings met hulle handhaaf dat dit ‘n tyd van omhelsing is wanneer jy hulle sien. Probeer jou bes om vrede met jou familie te handhaaf. Die Here se bedoeling vir daardie mense was om jou te help maak, en vorm in die mens wat Hy beplan het jy sal wees. Daarom is die gebod om ouers te eer, so belangrik (Efesiërs 6:2-3). Daarom is dit so goed waar broers in vrede saamwoon (Psalm 133:3).

Alle ander verhoudings het jy keuses in. Wie is die mense wat jy in jou lewe gaan toelaat om na aan jou hart te kom? Wie is die mense wat jou op ‘n positiewe mens inspireer. Wie laat jou beter oor jouself voel? Wie het jou beswil in gedagte? Jy kies jou vriende in die lewe. Jy kies ook jou lewensmaat, die mens wat die heel naaste aan jou hart gaan wees. Daardie mense verdien jou omhelsing, jou liefde, vrede, ondersteuning. Hulle maak die heel meeste saak.

Maar die Here gee ons gesonde verstand. Ons moet alle mense liefhê, in die sin dat ons hulle God se seën gun in hulle lewe. Ons sal deur ons ondersteuning en getuienis probeer om ‘n positiewe verskil in hulle lewens te maak. Maar nie alle mense kan nabye vriende wees nie. Nie alle mense is goed vir ons, en opbouend vir ons lewe nie. Ons hoef nie almal te omhels nie. Ons hoef nie vir almal plek te maak in ons hart, en al hulle moeilikheid te absorbeer nie. Soms is dit nodig om weg te bly van omhelsing. Om ‘n gesonde afstand te handhaaf van mense wat giftig is in jou lewe, mense wat jou verneder of afbreek. Ons gee nog steeds basiese respek, en reik ‘n hand van vrede uit. Sover dit van jou afhang, lewe in vrede met alle mense, sê Romeine 12:18. Maar dit beteken nie dat almal omhels hoef te word nie.

Daar is baie mense in ons lewe. Sommiges het oor jare baie naby gegroei, en ondersteun ons, hulle bou ons op. Omhels hulle. Sommige mense breek ons af, en maak ons seer sonder rede. Bly weg van omhelsing, loop maar kringe om hulle …

Gebed: Here, dankie vir die wonderlike mense wat U naby my hart geplaas het. Dankie vir my gesin, familie en vriende. Mag ek hulle liefde omhels, en in hulle lewe ‘n inspirasie wees. Gee my ook wysheid wanneer ek van mense moet wegstap, dat hulle my nie verder aftrek en seermaak nie. Mag u Gees my in my verhoudingslewe lei tot u eer. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS