Bible Society of South Africa

Ons droefheid sal in blydskap verander! – 20 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Julle droefheid sal in blydskap verander

16“Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.”

JOHANNES 16:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 21'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. 22Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.

JOHANNES 16:20-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elkeen van ons het ‘n intense behoefte om gelukkig te wees. Ons elkeen wil so graag tye van blydskap in ons lewe ervaar. Ons is mos bly wanneer dinge bo verwagting goed uitwerk. Ons ervaar blydskap in ons liggame, in ons verhoudings, in ons werkplek, op die sportveld wanneer daar beter as verwagting presteer word.

Blydskap (vreugde) is ook ‘n vrug van die Heilige Gees. (Galasiërs 5:22) Jesus is ons blydskap in die lewe, wanneer ons Hom ken en volg as sy dissipels, het ons in Johannes 15:12 gesien. Paulus het in Filippense 4:4 die opdrag gegee om altyd bly in die Here te wees, ongeag ons omstandighede.

Tog is daar ook tye van droefheid (hartseer). Jesus het in Matteus 5:4 gesê ons is geseënd wanneer ons treur oor dit wat verkeerd is in hierdie wêreld. Vandag se teks sluit hierby aan. In hierdie tyd tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms sal ons treur. Ons sal die stukkendheid van die wêreld intens ervaar, omdat ons weet dit kan so anders wees. Hierdie ou wêreld kon so naby aan die paradys gewees het as elke mens Jesus as Here geken het, en met sy liefde na elkeen van hulle medemens toe uitgereik het (Johannes 15:12)

Dit is die innerlike stryd wat elke gelowige vandag ken. Aan die een kant is ons diep dankbaar om Jesus as Verlosser te ken, en te sien hoe Hy ons lewens deur sy Gees heel maak. Ons ervaar sy blydskap wanneer ons eie lewe, ons verhoudings, hopelik ons omstandighede verander ten goede. Aan die ander kant is die hartseer oor dit in my eie lewe, en in die wêreld rondom my, wat God nog nie verheerlik nie. Jesus sê: hierdie tye is soos die geboortepyne van God se nuwe wêreld. Wanneer Hy terugkom, dan sal die swaarkrytye vir altyd verby wees. Ons leef in die verwagting dat Jesus terugkom. Ons sien uit na die toekoms sonder trane. Jesus se belofte vandag: die swaarkry tye vir die kind van God sal verby gaan, dit is net tydelik. Die toekoms is ewige blydskap saam met Hom, wat niemand by jou sal steel nie.

Gebed: Here Jesus, U is my blydskap in hierdie lewe. Dis my grootste vreugde om U te ken en te volg. Maar my hart is soms diep seer oor die stukkendheid van hierdie wêreld. Help my om ‘n kanaal van u lig en liefde te wees waar ek gaan, dat ek deel van u oplossing vir die wêreld se nood mag wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS