Bible Society of South Africa

Die Gees leer ons die waarheid – 19 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

JOHANNES 16:12-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke mens is uniek. Ons elkeen leer op verskillende maniere die belangrike lesse van die lewe. Elkeen van ons is ook op verskillende plekke in ons lewensreis saam met Jesus. Daar is seisoene in ons geloofslewe, waar ons geestelike behoeftes verskil van ander seisoene. Jesus weet dit! Die aand voor sy kruisiging was Jesus intens bewus hoe ‘n geweldige groot skok die dissipels binne ure gaan beleef, wanneer Hy gevange geneem en wreed gekruisig gaan word. Ses weke later sou sy dissipels weer deur groot skok gaan wanneer Hy na die hemel toe opvaar. In krisistye lyk ons behoefte aan geestelike leiding en sorg anders as in ons alledaagse lewe.

Die Gees van God is ons Parakleet, het ons gister weer gelees. Die Parakleet is soos ‘n advokaat in ‘n hof, wat ons verdedig. Hy is baie meer ervare en het baie meer insig as ons. Daarom kan hy ons goed bystaan in ons saak. Die Heilige Gees is God. Hy weet alles. Hy ken my van my eerste oomblik van bestaan af. Hy ken my gedagtes. Sy grootste begeerte vir my lewe is dat ek Jesus sal ken, en dat Jesus se woorde my lewe sal vorm. In vandag se teks sien ons hoe die Heilige Gees die fokus altyd weer op Jesus in my lewe plaas. Hy help my om Jesus as Verlosser te ontmoet, en om die Woord in my eie lewe van toepassing te maak. Hy maak God se waarheid ook my waarheid, Hy leer my wie ek is as ‘n nuwe mens, en hoe ek moet lewe om God te eer. Die Heilige Gees gee my ook die insig om die toekoms te kan hanteer met dit wat ek weet. Hy herinner my aan God se beginsels wanneer ek besluite moet neem. Hy herinner my aan God se beloftes wanneer ek deur moeilike tye moet volhard.

Wanneer ek Jesus as my Here leer ken, en in sy liefde bly, dan word Jesus verheerlik. Dan het die Heilige Gees sy belangrikste taak in my lewe verrig, dan verheerlik Hy ook vir Jesus.

Gebed: Gees van God, dankie dat U in my woon. Dankie dat U my ken, beter as wat ek myself ken. Dankie dat U Jesus aan my voorgestel het as my Verlosser, en dankie dat U my lei in Jesus se waarheid. Gee my die krag om te bly groei, en vrug te dra wat God sal verheerlik. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS