Bible Society of South Africa

Die krag van gebed – 21 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

22Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. 23Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie.

“Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. 24Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

JOHANNES 16:22-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons leef elke dag tussen die pole van blydskap en droefheid. Ons blydskap is die teenwoordigheid van Jesus as my Here, wat vir my die nuwe lewe gegee het as kind van God. Ons hartseer is die stukkendheid van die wêreld, ook van dit in myself wat nog nie ten volle aan God oorgegee is nie. Ons lewe in die tyd tussen Jesus se hemelvaart, en sy wederkoms. Hierdie is ‘n genadetyd vir die wêreld, want Jesus het gekom om die wêreld te red, nie te veroordeel nie. (Johannes 3:17) Ons is nou hier as Jesus se dissipels, sy volgelinge wat sy boodskap uitleef en verkondig waar ons kan. Dis ‘n moeilike reis, het ons hierdie week gesien.

Maar ons is nie alleen op hierdie pad nie. Die Heilige Gees is elke oomblik by ons as ons Parakleet. In elkeen van hierdie hoofstukke van Johannes 14-17 leer ons ook van die kragtige gereedskapstuk wat Jesus aan ons gegee het – die voorreg om te mag bid. Jesus het daardie voorreg om in sy Naam te bid, ontsluit aan die kruis op Golgota, Hy sê dit in Johannes 16:24a. Wanneer Hy die dood oorwin met sy opstanding, het die koninkryk van God oorwin oor die wêreld. Na Jesus se opstanding kan ons in sy Naam bid. Dit wat ons in sy Naam vra, sal ons kry, dit belowe Jesus. Maar onthou: hier gaan dit nie oor my eie inkopielys nie. Hier gaan dit om die opbou van God se koninkryk, oor sy plan om die wêreld te red. Ek as dissipel is deel van God se plan om sy genade en liefde met die wêreld te deel. Ek is uniek daarvoor gemaak, ek het die gawes van die Gees ontvang, en die krag van die Gees help my om my plek vol te staan in God se plan. Dit wat ek nodig het om daarby uit te kom, word deur gebed ontsluit. Daarmee verklaar ek my afhanklikheid van God. Ek gee my eie planne op, en vra God se leiding om by sy wil uit te kom.

Sien julle die kosbare geloofswaarheid in Johannes 16:24b raak? Wanneer my lewe oorgegee is aan God se wil, wanneer ek ‘n medewerker met Jesus se sending is, dan word my blydskap volkome. Dan maak my lewe sin! Dan ervaar ek dat my lewe ‘n positiewe verskil maak, ek is deel van God se oplossing vir die nood van die wêreld.

Ons lewe nou in die tyd van gebed. Die tyd waarin ons vra, en ontvang dit wat ons nodig het om Jesus te verheerlik. Eendag gaan Jesus terugkom, en ons saam met Hom wees. Dan gaan dit nie meer nodig wees om enige iets te vra nie, dan ontvang ons alles wat Jesus vir ons verdien het.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U ons pyn in hierdie wêreld so goed ken, U het dit ook beleef. Dankie dat ons elke oomblik welkom is om te bid, U luister graag. Leer ons om volgens u wil te bid, en te ontvang wat ons nodig het om U te verheerlik. Amen

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS