Bible Society of South Africa

Huil en lag - 8 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

PREDIKER 3:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

4'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag,

'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans,

PREDIKER 3:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Huil nou net, dan gee ek jou iets om oor te huil …” het menige kind in hulle ouerhuise gehoor. Dit het baie van ons manne laat dink dat dit ‘n skande is om te huil. En tog is huil ‘n emosie wat die Here met ‘n doel gegee het vir die mensdom, en daar is ‘n tyd om te huil.

Ons is mense, en die Here het ons met emosies gemaak. ‘n Baba gebruik huil om te kommunikeer dat daar behoeftes is wat dringend aandag nodig het, terwyl woorde ontbreek. Huil is ‘n goeie uitlaatklep vir ‘n hart wat oorloop van emosies. Die dames leer ons dat ‘n mens huil as jy seer het, as jy hartseer is, of wanneer blydskap jou oorweldig. Iemand wat huil, dra dadelik die boodskap oor dat hulle aandag nodig het. Iets is te groot vir hulle om alleen te hanteer, positief of negatief. Omdat ons geroep is deur die Here om mekaar so lief te hê soos wat Hy ons het (Johannes 13:34 en Johannes 15:12) is iemand se trane dadelik vir ons ‘n aanduiding: hier kan ek dalk net help. Hier kan ek dalk ‘n verskil maak in iemand se dag. ‘n Hart vol omgee maak erns met trane.

Maar dan is daar ook ‘n tyd om te lag. Humor is een van die mooiste eienskappe wat die Here vir ons gegee het om die lewe hanteerbaar te maak. Ons Suid-Afrikaners kry dit reg om van die grootste rampe grappe te maak. Dit maak die ramp vir ons meer hanteerbaar, dit breek die moeilike tye af in stukkies wat ons kan hanteer. ‘n Mens lag makliker as jy onthou dat God in beheer van die ou wêreld is. Alles hang nie van ons erns en aandag af nie. Dit is baie goed vir ons gesondheid om gereeld te lag, dit breek spanning se wurggreep af in ons lewe. Ons het nodig om gereeld te lag saam met die mense vir wie ons lief is. Lekker lag maak die lewe sommer baie lekker. Ons vergeet partykeer om te lag wanneer ons te veel aandag aan al die slegte nuus rondom ons kyk. Dalk, wanneer ons uit die stort uit klim, en onsself in die spieël sien, moet ons eerder lag as huil.

Mag die Here ons in hierdie tye help om in voeling te bly met ons eie emosie. Ons mag maar huil wanneer ons seer het. Ons mag huil wanneer die wêreld en sy omstandighede ons oorweldig. Ons mag op ‘n vriend se skouer huil, dis goed vir ons. Maar mag ons ook die mooi en die snaakse van menslike bestaan elke dag vier, en lag oor dit wat ons nie kan verander nie.

Gebed: Here, dankie dat U my na liggaam, siel en gees gemaak het. Dankie vir die emosies wat U vir my gegee het. Help my om emosioneel gesond te lewe, om te huil wanneer dit nodig is, en om elke dag vir iets te lag. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS