Bible Society of South Africa

Groot verlies en groot vreugde - 9 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

PREDIKER 3:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

4'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag,

'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans,

PREDIKER 3:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Alles verander in die lewe, en op ons lewenspad is daar verskillende seisoene. Ons hou nie baie van die gedagte dat daar ‘n tyd is om te treur nie. Treur gaan met verlies gepaard. Ons treur oor geliefdes wat sterf. Ons treur oor verhoudings wat nie uitwerk nie. Oor kosbare besittings wat ons verloor langs die pad. Om te treur bring ons by die diepste vlakke van ons emosies uit. Daar voel ons oorweldig, asof ons dit nooit gaan maak nie. Die bedoeling van die Prediker is om te sê dat hierdie nie die permanente toestand van ons toekoms gaan wees nie. Daar is tyd om te treur, maar alle treurtye gaan ook weer verby.

Saam met dit onthou ons dat Jesus gesê het ons is geseënd wanneer ons treur, ons sal vertroos word (Matteus 5:4). Gelowiges treur oor die toestand van die wêreld, en al die haat en geweld wat tans in die wêreld hoogty vier. Ons treur lei ons om te bid, en om te kyk waar ons persoonlik ‘n verskil kan maak.

As teenpool vir die tye wanneer ons treur is daar ook die tye wat ons mag dans van vreugde! Ek het die voorreg om heelwat paartjies te trou. Een van die mooiste oomblike is wanneer ‘n bruidegom en bruid die eerste dans as getroude paar op die onthaal dans. Dan is my gebed vir hulle altyd dat hulle so saam op die lewenspad mag dans deur al die uitdagings heen. Dans is so ‘n mooi beeld vir die lewe. Ons dans omdat ons behoort. Van die vroegste tye af het gemeenskappe unieke vorme van volkspele gehad, en as jy daaraan deelneem, assosieer jy met die gemeenskap. Ons klas op skool het ons eie unieke blokdans gehad. ‘n Dans maak energie los, dit laat ons soms eufories gelukkig voel. Die Here het ons so gemaak! Daarom kan ons ook dans soos Dawid, tot eer van die Here!

Ons kan nie die hele tyd treur nie, en ons kan nie die hele tyd dans nie. Wanneer dit tyd is om te treur, gaan ons tree vir tree daardeur totdat die hartseer verby is. Wanneer dit tyd is om te dans, dans jou hart uit, ook hierdie tye hou nie vir altyd nie.

Gebed: Here, dankie dat U die seisoene van my lewe bepaal. Dankie dat U by my is in die tye wanneer ek treur. Dankie dat U nooit van my weggeneem kan word nie, dat U die vaste sekerheid in hierdie wêreld vol verliese is. Maar dankie dat daar ook tye is om te dans. Te dans omdat ek behoort, te dans omdat die lewe lekker is. Te dans met iemand vir wie ek baie lief is. Dankie vir sulke mooi tye wat U ook gee. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS