Bible Society of South Africa

Breek en bou – groei in my lewe! - 7 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

3'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red,

'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou,

PREDIKER 3:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit sou baie vervelig wees as alles altyd dieselfde in my lewe moes wees. Verandering is noodsaaklik waar daar gesonde groei plaasvind. Groei het altyd die twee dimensies – aan die een kant is daar die losmaak van wat agter is, en dan die uitreik na wat beter is. Dit is ook wat met ons geestelike lewe gebeur in die proses waar die Heilige Gees ons heilig maak. Die Bybel praat van die afsterwe van die ou mens, en die opstanding van die nuwe mens in my. (Efesiërs 4:17-24 is een so ‘n voorbeeld.)

Wat moet afgebreek word? Alles wat uitgedien is in my lewe. Dit wat nie meer goed is vir my, of vir die mense rondom my nie. Ons almal het maniere van dink wat nie goed vir ons is nie. Ons het dalk gewoontes wat skadelik vir ons, ons medemens of die omgewing rondom ons is. Praat jy dalk op maniere wat afbrekend is, en negatief oorkom na die mense in jou lewe toe? Hierdie dinge vra dat ons daagliks met ons Here in ons binnekamer gaan tyd spandeer. Dit vra dat ons toelaat dat die Gees van God vir ons wys watter woorde, dade, gesindhede nie meer by ons pas nie. Breek dit af met die hulp van die Here! Jy kan verander, met die krag wat God verleen.

Aan die ander kant is ons meesterstukke onder konstruksie. Die Heilige Gees bou ons lewens op, dat ons daagliks meer en meer die beeld van Jesus vertoon. (2 Korintiërs 3:18) Hy leer ons om op nuwe maniere te dink. Ons rig ons gedagtes op die dinge daarbo, waar Christus is (Kolossense 3:2). Nuwe gedagtes lei tot nuwe woorde, ons begin opbouend praat, ons woorde is aangenaam vir die hoorders daarvan (Spreuke 16:24). Nuwe gedagtes en nuwe woorde lei tot nuwe dade wat God verheerlik. So bou ons, met die hulp van die Heilige Gees, ‘n nuwe lewe op wat Hom eer.

En ja, dalk mag jy hierdie vers so effe misbruik om daardie ou mure in die tuin af te breek, en iets nuuts daar op te rig! Jy mag ontslae raak van ou, uitgediende goeters, en ‘n nuwe, meer doeltreffende alternatief daarvoor aanskaf.

Gebed: Here, kom breek alles in my lewe af wat nie tot u eer is nie. Breek die ou manier van dink, ou woorde, ou gesindhede af wat nie meer pas nie. Help my om ook die dinge in my lewe wat my terug hou, af te breek. Kom bou my lewe op volgens u spesifikasies. Laat my al meer en meer die beeld van Jesus in hierdie wêreld vertoon, om U te eer. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS